Brittanje se hertogin van Cambridge is glo vreesbevange dat ’n foto van haar kaal agterstewe op die internet gaan beland.

’n Fotograaf beweer hy het die foto geneem terwyl hertogin Catherine en haar man, prins William, onlangs op ’n koninklike toer van Australië was, en gaan dit blykbaar aan die hoogste bieër verkoop.

’n Bron het aan die koerant Daily Star gesê: “Arme Kate. Al is dit nou haar agterstewe wat in die kollig is, en nie Pippa (haar suster) s’n nie, sal dit ’n groot verleentheid wees as dié foto ooit die lig sien.”

Die fotograaf beweer hy het die foto geneem toe die koninklike paartjie per helikopter by die Blue Mountains in Nieu-Suid Wallis aankom en ’n rukwind die hertogin se rok opgewaai het.

Die foto is reeds aan ’n aantal tydskrifte in Australië aangebied, insluitend Australië se Women’s Weekly, wat geskryf het: “Dit is net nog ’n steelfoto van die hertogin wat inbreuk maak op haar privaatheid.”

In 2012 het ’n Franse tydskrif ’n foto gepubliseer van Catherine wat bostukloos sonbaai tydens ’n vakansie met William. Die paartjie het die voorval veroordeel as “grotesk en totaal onregverdigbaar”.