Daar word berig prins William se vrou gaan na verwagting op 25 April die lewe aan haar tweede kind skenk, vier dae ná sy/haar oumagrootjie, koningin Elizabeth II, se verjaardag.

Die hertog en hertogin van Cambridge het nog nie amptelik die datum aangekondig nie, maar het geskimp dat die 33-jarige vandeesmaand die lewe gaan skenk. Prins George is ’n bietjie laat gebore; daarom is daar ’n kans dat die baba eers in Mei sy of haar opwagting sal maak.

Kate is al van 28 Maart af met kraamverlof. Na verwagting gaan sy langer verlof neem van haar koninklike pligte sodat sy meer tyd saam met die nuweling kan deurbring. Prins William gaan glo twee weke vaderskapverlof neem van sy nuwe werk as vlieënier by East Anglia Air Ambulance.

Daar was talle berigte die afgelope weke waarin beweer word dat Kate ’n babadogtertjie verwag, terwyl wedders nou glo sê die meeste Britte verkies die naam Charlotte vir die koninklike baba. Die paartjie voer aan hulle weet nie wat die kind se geslag is nie.

Nes prins George, sal die koninklike baba in die Lindo-vleuel van St. Mary-hospitaal in Paddington, Wes-Londen, gebore word. Prins George is natuurlik gebore en die hertogin van Cambridge beplan om weer so te maak.

Bronne: International Business Times, The Telegraph