VOOR ons oë het sy verander van ’n lenige prins-se-meisie in ’n rietskraal amper-prinses. Die stomme meisie! Prins William het nog skaars die pragtige ring van sy ma aan haar vinger gesteek of die aanmerkings begin: Sy’s te maer – het jy haar bene gesien?

Sy gaan sukkel om op daardie kieriebeentjies in Westminster-abdy tot voor die kansel te stap, het ’n skinderrubriekskrywer bitsig laat hoor. “Jy moet iets eet, hartjie,” het ’n bejaarde tannie vir die toekomstige prinses gesê toe sy onlangs in Noord-Ierland rondstap. “Jy is so skraal.”

“O, moenie bekommerd wees nie,” het ’n stralende Kate geantwoord: “Dis alles deel van die trouplan”.

Maar om twee redes was dit dalk net die verkeerdste ding wat die toekomstige bruid kon sê. Eerstens het geklink asof Kate, wat nog nooit ’n titseltjie ekstra vet aan haar lyf gehad het nie, sowaar nou probeer verslank. Maar erger nog: Dit het die sluise oopgemaak vir ’n vloedgolf vergelykings met daardie ander prinses, een van die gewildste en tragiesste karakters in die koninklike geskiedenis.

Kate is natuurlik al met prinses Diana vergelyk. Nes Diana, is Kate ’n beeldskone jong vrou. En nes Diana is sy innemend, stylvol, grasieus en op haar plek. Maar die gewigstorie is dalk die eerste negatiewe klanke wat nou oor dié meisiekind opgaan

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 24 Maart 2011