Brittanje se hertogin Catherine was glo nog nooit so geheg aan haar ma soos noudat sy swanger is nie.

Die 31-jarige en haar man, prins William, se eersteling word in Julie verwag en Catherine, wat bekend was a Kate Middleton voor haar troue, maak staat op ma Carole se ondersteuning.

Mev. Middleton wil dan ook alles in haar vermoë doen om te help om haar kleinkind te versorg. “Carole haal alles uit ter voorbereiding op haar eerste kleinkind,” vertel ’n bron.

“Sy is baie opgewonde en maak seker hulle het net die beste vir die baba. Dis ’n wonderlike tyd vir Kate en Carole en almal geniet dit om gereed te maak vir die kleinding se koms. Hulle was nog nooit so na aanmekaar nie.”

William en Catherine gaan glo vir ’n paar weke ná die geboorte by haar ouers inwoon en omvattende veiligheidsplanne word gemaak om die huis in Berkshire in die suidooste van Engeland te beskerm.

Die bron sê aan die tydskrif Grazia: “Die veiligheidsmaatreëls sal natuurlik baie streng wees. ’n Koninklike baba is ongelukkig ’n teiken vir terroriste en dit moet ernstig in ag geneem word.

Kate hou nie van ’n groot bohaai nie, maar verstaan hoe belangrik behoorlike veiligheid by haar ouerhuis is.”

“Dit sal diskreet, maar van die hoogste standaarde wees, soos by al die ander paleise.”