Kate Hudson is nie bekommerd oor oud word nie.

Die aktrise dink nie haar ouderdom sal ooit haar loopbaan in gedrang bring nie. Sy is nie van plan om as Hollywood-aktrise af te tree nie, selfs al kry sy later net rolle in kleiner rolprente.

Kate (34), ma van Ryder (9) en Bingham (2), sê in die November-uitgawe van die tydskrif Shape sy gaan nie ophou toneelspeel nie. “Om die waarheid te sê, ek vind die rolle raak interessanter hoe ouer ek word.”

Die ster van Something Borrowed se ma en stiefpa is die akteurs Goldie Hawn en Kurt Russell. Kate sê Kurt het haar help insien toneelspeel gaan om meer as bekendheid.

Sy het gesê sy kan onthou Kurt het haar toe sy jonger was gevra hoekom sy wil toneelspeel. Hy het gesê sterstatus is ’n klein deeltjie daarvan. “As jy dit kies omdat jy lief is daarvoor, is jy in die regte beroep.”

Kate, wat verloof is aan die Muse-voorsanger, Matthew Bellamy, sê op ’n ideale dag oefen sy baie. Sy neem ook dansklasse by Derek Hough van Dancing with the Stars.