Catherine (31) het verlede week haar laaste openbare verskyning gemaak by die amptelike viering van koningin Elizabeth se verjaardag.

’n Bron het aan die tydskrif Us Weekly gesê: “Sy geniet regtig die laaste weke van haar swangerskap. Boonop vind sy swangerskap fassinerend. Sy sê steeds ‘ek kan dit nie glo nie’ wanneer jy daarvan praat dat daar ’n baba binne-in haar is.

“Catherine en William is albei baie opgewonde en het baie vrae. Hulle wil weet hoe die baba sal lyk en na wie die kleinding sal trek.”

Die hertogin, wat voor haar troue as Kate Middleton bekendgestaan het, sal na verwagting die koninklike tradisie verbreek en na haar familie se huis in Berkshire terugtrek sodat sy die eerste ses weke ná die koms van die baba saam met haar ma, Carole Middleton, kan deurbring.

Catherine sal na verwagting middel Julie in die St. Mary-hospitaal in Londen die lewe skenk.