Die hertogin van Cambridge (33) het met ’n kuif gespog en was die ene glimlaggies by die Anna Freud-sentrum in Londen. Sy was stylvol soos altyd in ’n rok deur Ralph Lauren en swart hakskoene.

Dis Kate se eerste verskyning op haar eie sedert sy in Mei die lewe aan prinses Charlotte geskenk het. Sy het die afgelope vier maande met haar babadogter en prins George (2) by hul huis op die platteland, Anmer Hall, in Norfolk, deurgebring.

Kate het opgeruimd gelyk tydens haar besoek aan die sentrum wat kinders en jong mense met geestesprobleme help.

“Die hertogin wil betrokke wees by ’n oop bespreking rondom die emosionele en geestesgesondeid van kinders,” het ’n koninklike woordvoerder gesê.

“Sy sal voortbou op haar werk die afgelope 18 maande en aanhou om die waardevolle werk te ondersteun wat talle liefdadigheidsorganisasies in die sektor doen.”

Die ma van twee het selfs deelgeneem aan van die speletjies wat uitgewerk is om die kinders met dissipline en koördinasie te help.

“Dis wonderlik dat sy hierheen gekom het want dit wys vir my sy stel belang in families en kinders en die probleme wat mense kan hê,” het Anna Noguera, ’n ma van twee gesê. Sy het by die sentrum om hulp aangeklop toe sy in ’n oorvol hospitaal vir haweloses met haar man en seuntjie gebly het. Die 33-jarige vrou van Colombië is nou ’n lid van die sentrum se paneel wat uit ouers bestaan.

“Ek dink dis omdat sy self ’n ma is dat sy soveel deernis het vir families en kinders wat sukkel in moeilike situasies.”