TEEN die tyd dat jy hier lees, is sy waarskynlik prinses Catherine – ’n bona fide-koninklike, die vrou oor wie die hele wêreld praat. Sy het reeds haar aantreklike prins tegemoetgestap by die troue van die eeu, voor die oë van biljoene TV-kykers, om lid te word van daardie eksklusiefste klub op aarde, die Britse koninklike familie, in ’n seremonie vol prag en praal, pure Engeland.

Die Catherine wat daar in die Westminster-abdy ewige liefde en trou aan prins William beloof het, is baie ver van die meisie wat eens op ’n tyd Waity Katie genoem is – die een wat geduldig en gedwee moes wag dat die prins besluit of hy haar wil hê. Catherine Elizabeth Middleton is nou ’n magtige vrou, net so vorstelik soos enige ander koninklike, al vloei daar geen blou bloed deur haar are nie.

Maar haar verwelkoming in Buckingham-paleis beteken meer as net die begin van ’n nuwe lewe vir haar en haar bruidegom, sê koninklike kenners – hul huwelik is die begin van ’n nuwe era vir die Britse monargie.

Kate het die potensiaal om die koninklike familie se beeld te verander, iets wat geen ander koninklike nog kon regkry nie. Haar naam is toevallig dieselfde as dié van ’n ander grootse koninklike in die wêreldgeskiedenis, Catherine die Grote, en soos sy, sal Kate dalk nog diep spore vorentoe trap.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 5 Mei 2011