Catherine (31) en haar man, prins William (ook 31), se eersteling word na berig word op 13 Julie verwag, maar nou word gegis dis nie die werklike datum nie. Die datum is bloot gekies om die koninklike gesin se privaatheid te beskerm. William se ma, prinses Diana, het in 1982 aangekondig haar bevallingsdatum is op 1 Julie, maar William is toe heelwat vroeër gebore, op 21 Junie. Die koerant Daily Telegraph berig gaan Catherine waarskynlik dieselfde doen wat die datum betref. Na verwagting gaan Catherine ook nes Diana in die St. Mary-hospitaal in Londen kraam en dr. Marcus Setchell, die koningsgesin se ginekoloog, sal haar bystaan. Vroeg in haar swangerskap is Catherine weens ernstige oggendnaarheid in die hospitaal opgeneem. Dit het die koningshuis gedwing om die nuus van die swangerskap voor die skandering op 12 weke bekend te maak en van toe af wonder almal oor die presiese bevallingsdatum. Catherine het in April gesê die nuwe toevoeging tot die gesin word “rondom middel Julie” verwag, maar bygevoeg: “Babas het hul eie agenda.” Die koninklike protokol vir die aankondiging behels dat die mediese span ’n bulletin onderteken, wat dan aan die familie gestuur word om hulle in te lig. Daarna word dit op ’n houtesel op die voorplein van Buckingham-paleis aangebring, gevolg deur ’n elektroniese aankondiging.