Die 32-jarige hertogin hou glo niks van die 20-slaapkamerwoning se dekor nie en wil dit verander, ten spyte van die sowat R18 miljoen wat daaraan bestee is.

Catherine, wat in Julie verlede jaar die lewe aan prins George geskenk het, het glo ’n flambojante binneversierder gehuur, maar het van plan verander oor die kleurskema wat sy gekies het toe sy swanger was.

“Sy het probeer om die opknappingswerk op ’n goedkoop manier te doen met die bouers wat aan die kombuis gewerk het, en het Dulux-verwe gekry om te pas by die Farrow & Ball-kleurpalet om geld te spaar,” het ’n bron aan Mail Online gesê.

“Maar sy was nie gelukkig met die resultaat nie en een vertrek het ’n aaklige, onverwagte pers skakering gehad. Sy blameer haar hormone voor die geboorte.”

Volgens die koerant is Ben Pentreath gehuur om die koninklike woning op te vrolik waar Catherine en prins William in Oktober ingetrek het. Dié wat weet, vergelyk Ben met prinses Diana se binneversierder Nicky Halsam.

Hy het by die Prins van Wallis se Instituut van Argitektuur gestudeer voor hy aan prins Charles se Poundbury-miniatuurdorpie in Dorset gewerk het.