Terwyl die geboorte van die hertog en hertogin van Cambridge se tweede kind nader kom, wonder almal steeds wat Catherine en William dié baba sal noem.

Daar is nog nie bevestig of dit ’n seun of dogter is nie, hoewel wyd gegis word prins George gaan ’n sussie ryker word. Ywerige beroepswedders gaan intussen reeds weddenskappe aan oor moontlike name.

Terwyl die name Elizabeth (William se ouma se naam) en Diana (William se ma se naam) nog altyd as sterk aanspraakmakers vir ’n babadogter beskou is, is Charlotte ook ’n groot gunsteling. Die weddenskapnemers William Hill reken die kans is 4/1 en Paddy Power dink dis 5/1.

Charlotte was verlede jaar nommer 17 op die lys gewildste babaname in die Verenigde Koninkryk en is Pippa Middleton, Catherine se suster, se tweede naam.

Koningin Charlotte, koning George III se vrou, is waarskynlik die bekendste koninklike met die naam Charlotte, maar iemand van die monargie is lank laas so genoem. Sal ons in April dus ’n prinses Charlotte verwelkom?

Bronne: Huffington Post, Metro Express