’n Langhaar-rondloperkat van Obninsk in Rusland het onlangs ’n held in haar tuisdorp geword nadat sy ’n baba seuntjie se lewe gered het.

Die baba is langs ’n pad agtergelaat in temperature wat onder vriespunt gedraai het.

Die kat, wat Masha gedoop is deur van die plaaslike inwoners wat ook saam na haar kyk, het styf langs die baba gaan lê om hom warm te hou. Sy het ook deurgaans geraas gemaak om verbylopers se aandag te probeer trek.

Irina Lavrova, een van diegene wat partymaal na Masha omsien, vertel dat sy ’n gedoente gehoor het en toe gaan ondersoek instel het.

“Ek was bekommerd dat sy dalk haarself beseer het,” vertel Irina. “Gewoonlik sal sy naderkom as ek haar roep, maar die keer het sy nie. Uiteraard was ek vreeslik verbaas gewees toe ek nader kom en sien daar lê ’n baba langs haar.”

Die baba is gelukkig in ’n goeie toestand aangetref, al was hy vir ’n paar ure in die koue wind en weer. Hy is dadelik na ’n plaaslike hospitaal geneem waar dokters en verpleegsters na hom omgesien het.

Hospitaalpersoneel sê daar was ’n toestroming van skenkings van kos en speelgoed vir die seuntjie.

Intussen word Masha oral soos ’n held ontvang. “Almal is vreeslik trots op haar,” sê Irina. “Sy word lekker bederf deur al haar gunsteling kos gevoer te word.”

Kyk hier na die video:

Bronne: PEOPLE.COM; NYPOST.COM