Hei, Beliebers! Kyk vanaand in die skare by Justin Bieber se vertoning in Kaapstad uit vir Karlien van Jaarsveld. Sy is onbeskaamd opgewonde oor die konsert. “Ek voel soos ’n kind en kan nie wag om te sien wat hy gaan doen nie,” vertel sy. Sy sleep haar man, Derick Hougaard, saam en hy gaan saam met haar in die Golden Circle staan. “Hy spot my oor die hele storie en is nie gretig om saam te gaan nie. Sy mondjie is maar dik.”  Toe die Golden Circle-kaartjies vir die Johannesburg-vertoning soos soetkoek uitverkoop, moes Karlien se ma, Ronél Brink, vinnig ’n plan beraam. Toe sit hulle sommer sak en pak af Kaap toe vir die kans om heel voor te kan staan. Franja du Plessis, Juanita du Plessis se dogter, Karlien se broer, Bobby, en sy vrou, Annatjie, gaan ook daar wees. Karlien sing soms Justin Bieber-liedjies by haar vertonings en dan trek sy ’n pet en cool skoene soos Bieber aan. “Ek is mal oor sy musiek en dink hy is baie talentvol, al spot almal my daaroor. Ek worry nie wat die mense dink nie. Hy kan baie instrumente speel en ek is mal oor sy houding op die verhoog.” Haar gunsteling-Bieber-liedjie is Next to You, wat hy saam met Chris Brown sing. Sy is eintlik hard aan’t werk aan haar nuwe album, Uitklophou. “Ek is baie opgewonde; dit gaan baie goed. Saterdag is my laaste dag in die ateljee.”

Maar daar is darem tyd om Biebs te gaan kyk! “Ek stamp sommer iemand uit die pad uit,” het sy gespot oor al die mense wat voor gaan wil staan.

- Loren Pienaar

[caption id="attachment_31134" align="alignnone" width="403"]kknk 2013 Karlien maak vir Justin Bieber na by vanjaar se KKNK (Foto: Peet Mocke)[/caption]