Gister was ek opbreekpunt, my hart seer omdat ek self nie vooraf beplan het om te skei nie, ek weet nie van jou nie, maar ek glo nie daar is 1 vrou wat kan sê sy het by die 'aisle' afgeloop en geweet sy gaan skei nie... en as jy uit 'n geskeide ouerhuis kom is dit juis die een ding waarteen jy jou lewe lank baklei. So ek weet vir 'n ma om te loop moet daar 'n baie baie goeie rede wees...

Vandag is my eerste dag in my 30's en ek sit saam mense wat saam my was deur my laagste en my hoogste. Ek luister hulle uit en hoe seer almal vir my het oor dinge wat gesê word in die media, en ek wat weier om te sê wat regtig gebeur het.. almal sê heeltyd "as mense maar net 'n benul het.."

Die dag toe ek uiteindelik die besluit maak om te skei na 4 jaar se onophoudelike probeer, met baie verskillende beraders, sielkundiges en klinieke, en baie selfondersoek, het ek gekies om my en Derick se seer pad nie aan die media te verkoop vir geld nie, want ek het 2 klein seuntjies wat eendag ook google gaan gebruik, en ek wil hê hulle moet hulle pappa altyd as hulle held kan sien, maak nie saak wat in ons huis gebeur het nie. Ons het besluit deur nie te praat met die media nie, kan ons miskien vir ons kinders 'n veilige hawe skep.

Elke keer as ek verby 'n stopstraat of 'n lamppaal ry en ek sien my naam daarop voel dit of my hart stilstaan en ek dink "wat is nou weer gesê?" "Watse leuen word nou weer verkoop?" En dan moet ek op al my sosiale blaaie lees hoe mense uit onkunde hulle opinies lig en vergeet dat ek ook 'n hart het, ook foute maak, ook val en ook doen wat ek dink die beste vir my kinders sal wees. Keer op keer terwyl ek so stukkend voel deur als, wil ek terug skryf en al die redes gee waarom ek skei, maar net soveel keer soos ek iets wil sê, voel ek elke keer ek moenie praat nie. Ekt al hoeveel keer, met elke koerantberig wat ek sien op my knieë voor God gaan staan, so seer, en gevra of ek kan praat in die publiek, maar ekt elke keer gevoel ek moet net stilbly.

Die aand wat ek in Groblersdal moes optree lees ek weer iets op facebook wat my hart uitruk. Ek het niks moed en niks krag gehad om op daai verhoog te gaan staan nie. Ek het in die skool se badkamer op my knieë vir God gevra "asseblief laat ek praat asseblief die mense glo leuens!" Daai aand besluit ek om Hoor Hoe Raas die Stilte te sing, vanuit die fliek As Jy Sing. My 'band' was skoon gestres want ons het die liedjie 'n jaar laas gedoen ek weet toe nie eers of ek die woorde meer ken nie, maar ek bly voel ek moet dit sing.

BLY NET STIL HOU JOU MOND VIR EWIG TOE

WORD GESÊ MAAR WYS MY HOE

MENS NET STILBLY

MET ALS OM ONS VERKEERD

BLY EK STIL

HOU GEHEIME TEEN MY WIL

AS EK ALLES SOU ONTHUL

SAL EK VRY WEES EN DIE VRESE IN MY STIL

EK WIL DIT SKREE

EK WIL DIT SKREE

EK WIL DIT AANHOU SKREE

EK WIL DIT GIL

WIL DIT GIL

MAAK DIT GEEN VERSKIL

HOOR HOE RAAS DIE STILTE

HOOR HOE RAAS DIE STILTE...

Lui die woorde van die liedjie.. en terwyl ek dit sing kry ek 'n visioen van 'n wit papier met 'n handskrif op wat ek herken, dit skryf: 'pêrels word nie op die straat gevind nie...' dis tannie Saar van ons bybelskool se handskrif wat daar skryf. So besluit ek om weer te swyg.

My liedjies gaan grootendeels oor liefde en wanneer ek dit sing kom dit steeds uit my hart, want ten spyte van alles, glo ek steeds in die liefde, want God is liefde. Ek probeer God gehoorsaam deur alles in my lewe, mens sê mens soek nie mense se guns, genade of ondersteuning nie, want slegs God sin tel, maar om weekliks uitmekaar in "liefde" geskeur te word, het my grootste kruis geword.

Almal analiseer ons, my doen en late, en hoe dit ons kinders affekteer, en al was niemand deel van ons situasie nie, laat ons tog toe dat hulle opinies tel en ons vorm en vergeet ons Jesus se woorde: 'laat die een sonder sonde dan die eerste klip optel en gooi'.. Dit was ook die enigste keer wat Jesus self iets geskryf het.. Die mens soek iemand om na op te kyk, iemand om op 'n 'pedastal' te plaas wat nie die foute maak wat hulle maak nie.

Die mens skep self die prentjie van daardie persoon, maar wie KEN die persoon persoonlik? Wie eet elke aand saam my? Wie sit elke aand my kinders saam my in die bed? Wie bid saam my? Wie lag saam my? Die mense ken my nie, dit veroorsaak onkundige, oningeligte opmerkings, wat ek elke aand van God bid om my en my kinders teen te beskerm, dat die pyle wat gevuur word, in leë dorre plekke sal inskiet waar dit geen skade kan aanrig nie. Het jy al ooit probeer om jouself in my skoene te sit? Moenie iemand oordeel in wie se skoene jy nog nie geloop het nie.

Dit maak my seer om te hoor hoe ander ons bespreek, want almal wil weet wie moet hulle die skuld gee, vir my, of Derick? Maar ons vergeet God sê, lewe en dood lê in die mag van die tong. Ek het vertroue gehad in my volk dat my naam veilig sal wees in jou mond. Maar soos God sê die mense sal jou altyd teleurstel maar Ek sal nie. Net soos ek julle ook teleurstel, want ek het gekies om van my man te skei. Was dit die moeilikste besluit van my hele lewe: JA. Het ek net impulsief besluit om te skei: NEEEEE. Weet ek of ek die regte besluit gemaak het: NEE.

Dis 'n pad wat ek elke dag moet stap. Dink jy nie ek wonder elke dag hoe die keuse my kinders sal affekteer, en hoe die publieke stryd hulle sal uitsonder bo ander kinders nie? My grootste wens was om vir hulle 'n heel gesin te bied, maar 2 gebreekte ouers maak nie 'n heel gesin nie.

Ek kom self uit 'n geskeide ouerhuis en weet wat dit behels, daarom was die eending wat ek God nog altyd gevra het, asseblief ek wil nooit ooit skei nie. Die oneindige bakleiery in ons huis het nie meer net van ons gesteel nie, maar ek kon agterkom van die kinders ook. Dis hoekom ek so hard daarteen baklei het, en dis hoekom dit my seerste besluit nog was.

Ek het baie foute en Derick ook, maar eending weet ek, ek het diep en lank geworstel en op die ou einde gekies om die beste besluit te neem, nie vir elkeen wat so graag wou glo in ons sprokie nie, of vir die wat nie 'n dag in my huis saam my gelewe het of in my vel wakker moes word nie. Ek het die beste besluit gemaak vir my en my kinders, wat ek nog moet leer van ware liefde en 'n veilige omgewing. Niemand gaan uit hulle eie 'n voorblad doen en sê hoe sleg dit gaan in hulle huwelike nie? Al ooit daaraan gedink? Miskien moes ons vroeër met al ons voorblaaie in die media gedeel het dat dit met ons regtig sleg gaan, maar ons het bly hoop dat dit iewers tog sal regkom. Maar God en my kinders kom eerste. So gooi die klip as jy hom moet gooi, ek kies om Derick nie sleg te maak nie, want ek doen dit nie in my huis nie en so sal ek dit nie doen om enige iemand se guns te probeer wen nie.

Derick het baie waarde om toe te voeg tot ons kinders, ek weet hulle gaan nog soveel by hom leer van reg en verkeerd en lojaliteit en respek. Hy is altyd welkom om die seuns te kontak en met hulle tyd deur te bring en wanneer ek weggaan op shows word hy eerste geken in die saak, sodat ons saam kan besluit oor die beste alternatief. Ek vertrou dat God die beste pa vir ons seuns gekies het.

Ek het baie foute gemaak wat ek wens ek kan terugvat en ek glo Derick voel ook so, ek het diep berou en dieper seer.. maar iewers moet ons die drade begin optel en vorentoe kyk ter wille van ons mooiste seuntjies.

Jesus was ongewild en was deur die menigtes uitgetart, maar nooit het Hy Homself verduidelik nie, want Hy en God het die waarheid geken.

Ek wil ook dankie sê vir elkeen se opregte liefde en ondersteuning in hierdie moeilike besluit, ek vra dat niemand sal kant kies of Derick Hougaard sal sleg praat nie, want niemand hoef te wen nie, dit was nog nooit 'n kompetisie nie, dit was wel 'n huwelik wat misluk het. Ek wil ook aan Rapport, Huisgenoot en Beeld vra om asb die storie te los nou, daar is mense wat bitter seer kry, en dat julle asb ons inisieële wens om dit uit die media te hou nou sal respekteer.

Terwyl ons stuk stuk, als probeer optel en heel vir ons seuns, is die wêreld weer besig om dit uit mekaar te skeur, want almal het 'n opinie. Ek het baie foute en leer nog elke dag. Asseblief moenie my op enige troon sit nie, want ek is nie perfek nie, ek gaan jou teleurstel, sit vir God op daai troon, want net Hy hoort daar. Mag God iets van sagtheid en genade in elkeen van ons se harte plaas, hierdie is nie 'n maklike pad of keuse vir een van ons nie, en ek regverdig niks of niemand, maar ek glo dat alles ten goede sal meewerk omdat ons in Christus is en God onophoudelik soek deur als ons foute, sodat ons seuns ook heel sal grootword.

Ek gaan vir eers van sosiale media afgaan, my kantoor sal wel my shows en al die inligting steeds laai. Hierdie was my eerste en laaste brief oor my egskeiding. Vir eers moet ek weer besef dat ek nie nodig het om mens se genade te verdien nie, maar slegs God sin.

Liefde

Karlien

Bron: Karlien van Jaarsveld se Facebookblad