Kort nadat Karlien van Jaarsveld in die sosiale media gal gebraak het oor ’n hemelhoë selfoonrekening, is die probleem opgelos.

Karlien wou Sondag in Engels op Facebook by Vodacom weet hoe sy ’n rekening van amper R25 000 kan ontvang terwyl sy die afgelope agt jaar dieselfde kontrak het. “Ek het nog nooit hierdie probleem gehad nie. En niemand weet hoe om dit op te los nie. Wat gaan aan jul kant aan?” het die sangeres geskryf.

In die inskrywing heg sy ’n skermgreep van ’n SMS van Vodacom aan, wat lees dat sy R24 891,64 verskuldig is. Die selfoondiensverskaffer maan daarin dat sy die hele bedrag betaal om te verhoed dat haar diens opgeskort en ekstra kostes gehef word.

Karlien se bestuurder, Aïda Steyn, het Woensdag gesê die probleem is reggemaak en het Vodacom as “ontsettend hulpvaardig” beskryf. “Karlien is tevrede,” het sy die sangeres se gevoel oor die vinnige reaksie opgesom.

Byron Kennedy, Vodacom-woordvoerder, het gesê die kwessie is vriendskaplik opgelos. “Ons ondersoek wys die hoë rekening was die gevolg van internasionale data roaming en nie ’n rekeningfout nie.”

“Vodacom moedig kliënte aan om seker te maak hulle het voldoende databondels wanneer hulle buite Suid-Afrika reis. Monitor jou dataverbruik en aktiveer roaming."

Aïda sê die voorval was vir hulle vreemd, want Karlien was nie oorsee nie en gebruik haar foon basies net vir oproepe, WhatsApps, Facebook en Twitter en haar rekening was nog nooit naastenby so hoog nie. Karlien het egter na die voorval verstellings op haar foon aangebring.

Karlien se inskrywing is talle kere op Facebook gedeel en verskeie mense het aangedui dat dieselfde probleem by ander verskaffers opduik.

Een vrou het geskryf haar man het in Januarie ’n rekening van meer as R28 000 van ’n selfoondiensverskaffer ontvang, maar omdat hulle besig is om ’n huis te koop, moes hulle die geld betaal omdat dit negatief op hul kredietrekord sou lyk.

“In ons lewe was dit nog nooit meer as R7 000 vir al agt kontrakte nie.”

Nog ’n opmerking was van ’n man wat ’n jaar gelede ’n rekening van R40 000 van ’n selfoondiensverskaffer ontvang het. “Ek moes ’n prokureur kry en state as bewys lewer.”

Eindelik het hy ná ’n drie maande lange proses R2 000 betaal.

Maar hoe gebeur dit dat mense soms onverwags hemelhoë rekeninge van selfoondiensverskaffers kry?

Mamello Raborifi, MTN-woordvoerder, sê in baie gevalle is sulke rekeningskokke die gevolg van die manier waarop verbruikers hul slimdata gebruik. “Ons ondersoeke dui daarop dat data vinnig uitgeput word weens een of ’n kombinasie van die volgende:

1. Outomatiese instandhouding van sagteware

Slimtoestelle soos tablette en slimfone word deur ’n bedryfstelsel gedryf en gebruik apps wat soms op die agtergrond ekstra data vir instandhouding aflaai sonder dat die gebruiker weet wat daartoe lei.

Dié instandhouding kan baie data gebruik. Dit raak nog duurder wanneer dit buite bondels verreken word. Verbruikers word aangeraai om die outomatiese sagteware-instandhouding op hul fone te deaktiveer.

2. Die kyk van video’s in hoë definisie (HD)

Video’s en foto’s kom in verskillende formate met ’n wisselende graad van data wat gebruik word om dit te kyk of aan te stuur. “Hoëdefinisiefoto’s en -video’s gebruik in die algemeen vier keer soveel data as standaardfoto’s en -video’s.

“Wanneer verbruikers dus HD-video’s kyk, selfs al is dit net ’n advertensie, gebruik hulle baie data. Dikwels is verbruikers onbewus dat hul data gebruik word wanneer hulle interaktiewe advertensies op sosialemediaplatforms teëkom. Die verbruikte data is ook duurder as dit buite ’n databondel is,” sê Mamello.

3. Hotspot-“plakkers”

Sy sê sommige verbruikers deel hul internettoegang in ’n hotspot waartoe ander toestelle toegang kan kry om data-intensiewe apps te gebruik. Om jou hotspot te vrygewig te deel of ’n onbeveiligde hotspot te hê kan tot ’n rekeningskok lei.

4. Gesteelde/verlore fone

Dit gebeur ook dat kliënte fone verloor of verlê. In die verkeerde hande van gewetenlose individue kan dienste misbruik word en tot hemelhoë rekeninge lei.

Byron raai mense aan om seker te maak apps is nie in die agtergrond oop nie. “As jy byvoorbeeld jou WhatsApp-data beperk sal jy nie die beste ervaring uit die app kry nie.

Byvoorbeeld, as jy jou WhatsApp-data beperk sal jy slegs jou WhatsApp-booodskappe ontvang wanneer jy die app oopmaak en nie op die presiese oomblik wat die boodskap gestuur is nie.

Byron raai mense ook aan om te kyk hoeveel data individuele apps gebruik en jou verstellings sover moontlik aan te pas.

“Kyk gereeld jou databalans en koop meer data soos jy dit benodig,” sê Byron.