Die Afrikaanse popprinses Karlien van Jaarsveld het onlangs ’n foto van ’n springbokblad, gemaak in ’n baksakkie, op Instagram gedeel wat behoorlik haar aanhangers se monde laat water het.

“Joe het vir ons ’n fantastiese springbokblad gemaak," het sy by die foto geskryf. "Wat ’n ete! Almal sê mos ek lyk 'gesonder'. Dis soveel mooier as om te sê ek't gewig opgetel! Dankie Joseph!"

Huisgenoot se assistent-kosredakteur, Esther Malan, het ons weergawe van ’n baksakkie-springbokbladresep saamgestel sodat Huisgenoot se lesers ook hierdie lekker resep kan probeer:

Genoeg vir 4-6 mense

Voorbereiding: 15 min

Gaarmaaktyd: 2 ure

1 groot baksakkie word gebruik

Bestanddele

5 ml (1 t) meel

600 g – 1.2 kg ontbeende springbokblad-of boud

Sout en pas gemaalde peper

2 takkies roosmaryn

2 rooi uie, gehalveer en in skyfies gesny

4 knoffelhuisies, gekneus

30 ml (2 e) olyfolie

Sap van 1 suurlemoen

1 groen brandrissie

15 ml (1 e) heuning

Voorverhit die oond tot 180°C.

  1. Gooi die meel in die baksakkie, hou die sakkie toe en skud sodat die meel oraloor versprei. Sit die baksakkie, met die opening na bo, in ’n braaibak.
  2. Vlek die springbokblad of –boud oop en geur met sout en peper. Breek die helfte van die roosmaryn van die stingels af en kap rofweg. Sprinkel oraloor die vleis.
  3. Sit die helfte van die uie en al die knoffel onder-in die baksakkie. Rol die vleis op en sit bo-op die uie. Pak die res van die uie om die vleis.
  4. Sprinkel die olyfolie en suurlemoensap oor die vleis. Pak die orige roosmaryntakkies en die brandrissie bo-op en drup die heuning oor.
  5. Knoop die sakkie toe en bak in die oond vir 90 minute of tot sag en gaar.

Laat weet ons op ons Facebookblad wat julle van die resep dink!