Karlien van Jaarsveld se nuutste album, Jakkals trou met wolf se vrou, het verlede week die winkelrakke getref, maar dit beteken nie dié blonde-sangeres sit nou en niksdoen nie!

Inteendeel, sy en haar orkes is kliphard besig met repetisies om haar komende lewende Jakkals-vertoning, waarmee sy deur die land gaan toer, aanmekaar te sit.

“Dit gaan regtig ‘n kwaliteit-vertoning wees wat my baie opgewonde maak!” vertel sy. “Ek het die laaste tyd as kunstenaar baie gegroei, en dit kom sterk op die album en die vertoning na vore.”

Oor skinderstories dat sy en die 2010-Mnr. SA, Denver Burns, Suid-Afrika se nuutste glanspaartjie is, lag sy net.

“Ek het nie ‘n idee waar die mense daaraan kom nie,” vertel sy oor haar vriendskap met Denver, ‘n prokureur.

Die twee het in Desember by ‘n musiekkonsert in Hartenbos ontmoet, “waarna ons mekaar ‘n paar keer na gesellighede vergesel het”.

Intussen moet haar ondersteuners op die uitkyk wees wanneer sy haar Jakkals-vertoning in ‘n dorp naby hulle kom aanbied. “Al my tyd en energie gaan nou in hiérdie projek in.”