Met meer glans en glorie, ’n glansryke groep beroemdes en vars bloed onder die beroepsdansers, is hierdie weeklikse kompetisie slaggereed om die winteraande die volgende 10 weke lekker warm te maak. Dit begin op Vrydag 5 Junie om 19:30 op SABC3.

Katlego Maboe, van SABC3 se ontbytprogram Expresso en Roxy Burger is terug en slaggereed om saam met Michael Wentink, Tebogo Kgobokoe and Samantha Peo die paneel beoordelaars te vorm.

Die name van die beroemde deelnemers en hul dansmaats vir die agtste seisoen van Strictly Come Dancing is reeds bevestig.

Die vyf manlike deelnemers is: Nkululeko Tshirambula, ’n ster van Muvhango; Gary Botha, voormalige Blou Bulle-rugbyspeler; Siya “Slikour” Metane, rapper en vermaaklikster; Stanton Fredericks, oudspeler van Kaizer Chiefs en Bafana-Bafana; en Jason Goliath, akteur en komediant.

Die vroulike deelnemers is: Pearl Modiadie, aanbieder van Zaziwa en Metro FM; Sureshnie Rider, radiopersoonlikheid by 5FM; Leigh-Anne Williams, wat Expresso en Presenter Search on 3 aanbied; Karlien van Jaarsveld, Afrikaanse sanger, en Bridget Masinga, vermaakpersoonlikheid.

’n Baie talentvolle span beroepsdansers gaan die beroemdes hul passies laat maak. Hulle is: Grant Louis Esterhuizen, Obed Mokokodi Mofoleng, Johannes Radebe, Devon Leigh Snell, Dennis Sifiso Maseko, Nombulelo Hlathi, Jeanné Michelle Swart, Michelle Leigh Oppenshaw, Erin Musson en Samantha Bele Viana.

Strictly Come Dancing sal van 5 Junie 2015 af op Vrydae van 19:30 tot 21:30 op SABC3 uitgesaai word, en dit sal van 6 Junie 2015 af op Saterdae van 16:30 tot 18:30 herhaal word.