Karlien van Jaarsveld en Derick Hougaard het in ‘n gesamentlike verklaring bekend gemaak dat hulle hul troue, wat in November sou plaasvind, uitgestel het.

Beide het tot die besef gekom dat daar persoonlike sake is wat aandag moet kry voor hulle ‘n belofte voor God kan aflê.

Vir albei is die huwelik een van die heel belangrikste gebeurtenisse in ‘n mens se lewe en ‘n heilige instelling voor God.

Die verlowing is nie verbreek nie en hulle is steeds ‘n paartjie. Dit was nie ‘n maklike besluit om die troue uit te stel nie, maar omdat albei baie sterk oor die huwelik as instelling en ewige verbintenis voel, wil hulle baie seker maak dat alle onopgeloste sake opgeklaar moet word voor hulle in die huwelik kan tree.

“Ek is lief genoeg vir Karlien om te wag om met haar te trou,” sê Derick. “Ons gaan saam deur alles werk sodat ons huwelik op ‘n gesonde basis kan begin. Sy is my anderhelfte.”

“Derick is steeds my droomman,” sê Karlien. “Ek is ontsettend lief vir hom. Ons gaan deur al die haakplekke werk en ek weet dat ons net beter en sterker aan die ander kant gaan uitkom.”

Die paartjie het gevra vir privaatheid in hierdie tyd en volstaan by hierdie persverklaring.

Volg Huisgenoot op Twitter.