In ’n ope brief aan die ongebore dogtertjie het Karlien geskryf hoe sy vroeër die week begin bloei het. Sy is toe in die hospitaal opgeneem met ’n redelik hoë infeksiemerker. Die volgende dag het sy kontraksies begin ervaar.

Die situasie het spoedig versleg. “Dit voel soos ’n fliek,” skryf sy in die brief. “Ons is almal in trane. Die dokter het my kom sien en alles verduidelik, maar dit klink onwerklik.”

Haar huisdokter het verduidelik dat sy infeksie in haar baarmoeder gekry het, iets wat tot een uit 100 vroue affekteer. Haar infeksietelling was 137 waar dit normaalweg 5 moet wees. “Ek het al my vrugwater verloor en was 10 cm ontsluit, maar ons het bly bid, bly glo . . .” skryf Karlien.

Twee dae later (gister) het sy ongelukkig die baba verloor.

’n Hartgebroke Karlien en Derick het op Facebook geskryf van hul liefde vir hul ongebore dogtertjie. “Ek wou so graag ’n prinsessie hê,” het Derick geskryf. “Ek het so lief vir jou geraak. Ek mis jou al klaar.”

Karlien en Derick sou hul dogtertjie Evah genoem het.