PLOMP en asvaal met ’n bruin pruik op die kop en daardie brilletjie op die gesig – so het haar rock-aanhangers Karen Zoid (32) nog nooit gesien nie. Dis haar rolprentdebuut in Franz Marx se nuwe fliek, Susanna van Biljon, en die energieke blonde rockmeisie speel ’n alleenlopervrou in haar laat 30’s wat op ’n godverlate dorpie op beter dae wag.

En sy’s lekker dik . . .

Nee, sy het darem nie die eerste prys in die oliebol-eet-kompetisie probeer wen nie, vertel Karen waar sy luilekker agteroor op ’n fênsie stoel in Sol Kerzer se One and Only Hotel in Kaapstad sit, nog so viets soos altyd.

Dis gelukkig net ’n vetpak wat die skade gedoen het. En die pak waarin sy haar moes inwurm om die “gewigtige’’ Rebecca Dreyer oortuigend te kon vertolk was glad nie vet pret nie, veral nie op die Karoo-dorpie Uniondale waar die kwik soms hier by 40 grade gedraai het nie, erken sy.

“Ek moes bruin sykouse dra, dan die vetpak van silikoon en nog my klere bo-oor; dit was aaklig. Dit was harde werk, en ek het seker sowat 6 kg verloor in die paar weke met die skietery.’’

So oortuigend was die rockmeisie se transformasie dat plaaslike nuuskieriges salig onbewus was van die bekende in hul midde.

“Soms tussen my tonele het ek op straat tussen die mense gestaan en hulle het dan gevra: Wie se movie skiet hulle? Dan sê ek, kyk daar is Nenna ook,’’ sê sy en lag lekker.

Maar die pak was g’n grap nie. “Dit het my weer nege maande swanger laat voel. Ek moet erken ek was kwaai depressief elke slag dat ek in die spieel kyk. Ek het regtig so vet gevoel.’’

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 30 September 2010