[caption id="attachment_131589" align="alignnone" width="600"]Karen Zoid (Foto: Argief) Karen Zoid (Foto: Argief)[/caption]

’n Ope brief aan iemand wat hoop nodig het.

Vandag, 13 Julie, is my eerste verjaardag as nieroker. Soos baie van julle weet, was ek as tiener ’n dwelmslaaf. Ek het my ma weens kanker verloor toe ek nege was en kon net nie die verlies van my primêre versorger verwerk nie.

Nie een van my vriende het verwag ek sou my 20’s haal nie. Ek het ook nie beplan om dit te doen nie. Teen die tyd dat ek 20 was, het ek vier keer ’n oordosis geneem en te veel vriende weens ’n oordosis of selfdood aan die dood afgestaan.

Lees ook: Karen Zoid se liedjie spesiaal vir Huisgenoot en vir jóú!

Ek is nou al amper 17 jaar vry van dwelms. Dit voel nie eens asof die mens oor wie ek skryf, regtig meer ek is nie. Al wanneer ek regtig onthou dat ek amper my lewe weens dwelms verloor het, is wanneer ek mense uit my verlede raakloop.

Soos ek gesê het: Die meeste van hulle is nie meer hier nie. Wanneer ek dus mense uit my verlede teëkom, is dit meestal vriende en familie van vriende wat destyds dood is. Om hulle te sien gee my altyd ’n skok van sterk emosies.

Veral Almarie se ma.

Almarie is aan “speedballing” dood nadat sy uit rehabilitasie ontslaan is. Sy was heeltemal skoon en het besluit om te wille van die ou dae ’n laaste keer saam met vriende dwelms te gebruik.

Dit is dikwels die geval met dwelmslawe. Mense is geneig om ’n oordosis te neem wanneer hulle eintlik “skoon” is.

Die liggaam het sy opgeboude verdraagsaamheid vir die voorkeur-dwelmmiddel verloor en die gebruiker neem per ongeluk ’n oordosis.

Sy wou nie regtig doodgaan nie. Sy het haar pyn verwerk. Sy wou nie langer haarself of enigiemand anders seermaak nie. Dit was ’n ongeluk.

Almarie se ma, Alda, werk ook in die teater- en televisiewêreld en een aand (2004?) het ek haar herken as die verhoogbestuurder van ’n produksie waaraan ons albei gewerk het.

Ek het gevoel hoe skaamte my hele liggaam beetpak terwyl sy na my stap. Sy het geweet wie ek was. Sy het geweet wie ek regtig was. Ek was daardie slegte dwelmslaaf. Een van die verkeerde vriende wat voorheen saam met haar dogter dwelms gebruik het.

Ek het ’n rol gespeel in die verhaal wat tot die begrafnis van haar kind gelei het. Sy het my arm gegryp en my geskud.

“Ek is so trots op jou!” – Ek is so trots op jou. Wag! Wat?

Sy het my hand in hare geneem en dit weer gesê. Haar oë het versag en sy het geglimlag soos ek haar nog nooit sien glimlag het nie. En toe omhels ons mekaar, en ons lag en ons huil in baie kort intervalle oor en oor, ’n paar gewyde oomblikke lank.

Die mense om ons het begin staar. Maar ons was skoon, gesuiwer deur ons ongemaklike wederkerende omhels/lag/huil-ritueel.

Sedert daardie dag in 2004 het baie gebeur en ek het sedertdien so baie keer saam met Alda gewerk. Ons maak altyd tyd om in te haal en vinnig te gesels oor wat in mekaar se lewe aangaan. Ons sien mekaar nie die hele tyd nie, maar hoe sy my daardie dag begroet het, het my al die jare bygebly.

Dit is waarom ek vanaand aan Almarie dink en hoekom ek my spesiale herdenking aan Alda wil opdra. Waar daar liefde, geloof en vergifnis is, is daar hoop vir meer as wat jy jou kan voorstel.

Wat jou sonde ook al is, wat jou pyn ook al is, daar is altyd ’n uitweg. Moet nooit moed opgee nie.

Rus in vrede Al. Dink vanaand aan jou. ??