[post-slider]

Die nuwe seisoen begin met die veteraanaktrise Sandra Prinsloo en Snotkop as die heel eerste gaste in die Republiek.

Karen het mense landwyd omtrent aan die gons gehad tydens die vorige seisoen deurdat sy niks minder as 10 nommereen-treffers op die plaaslike iTunes-ranglys gehad het.

Week ná week het die liedjie wat Karen saam met haar gaskunstenaar op die program gesing het, tot boaan die treffersparade gevorder.

Kyk hier na Karen se uitvoering van Valiant Swart se bekende Sonvanger:

Ons het Karen, wat ook laasjaar ’n nuwe soloalbum uitgereik het, ’n bietjie gepols oor die sukses van haar reeks en wat die toekoms inhou:

1. Het jy ooit verwag dat die program so gewild gaan wees toe jy die eerste seisoen van Republiek van Zoid Afrika begin het?

Ons wou iets maak wat goed was, maar ons het nie geweet dat dit so populêr sou wees onder die mense nie. Ek het ’n droë humorsin wat al vantevore misverstaan is; daarom was ek werklik verbaas en gevlei toe ek soveel ondersteuning en goeie terugvoer kry kort ná die loodsprogram.

2. Watter uitdagings lê in die derde seisoen voor jou deur? Is daar druk om met iets nuuts vorendag te kom?

Ek is te hardkoppig of dom of lui om druk op my te laat plaas om iets te doen of iemand te wees wat ek nie is nie. Ek hou daarvan om te “speel” wanneer ek werk aan ’n projek en dan te sien wat vorendag kom.

Die beste liedjies en snaaksste grappies (in my loopbaan) het “ontvou”. Gelukkig is ek nie die regisseur van die program nie. Andersins het ons een episode per jaar opgelewer.

Ek het wel die titel van vervaardiger wat ek deel met Carien (Loubser), wat my basies ruimte gee wanneer dit vir my nodig is om hardkoppig, lui of dom te wees in tyd van nood.

Die werklike druk van ’n TV-program lê eintlik by die regisseur of vervaardiger wat die skip moet stuur, omsien na alles, insluitende die passasiers, en dan natuurlik vreesloos voortvoeter in die ongenaakbare, verlate oseaan van verantwoordelikheid in.

Al is dit my skip, is ek ook eintlik maar net ’n musikant wat gaan aanhou speel as ons die ysberg tref.

3. Watter gaste kan kykers vanjaar in die Republiek verwag?

Adv. Thuli Madonsela, die vorige Mej. Wêreld, Rolene Strauss, Suzelle DIY, Mynie Grové, Koos Kombuis . . . Ek wil nie almal nou al op noem nie. Dit bederf die pret.

4. As iets soos afsterwe of afstand nie in jou pad gestaan het nie, wie is die drie gaste wat jy die graagste na die Republiek sal wil nooi?

Christus, John Lennon en Ingrid Jonker.

5. Was jy verras deur die reaksie van kykers op die musiek wat julle op die program gesing het?

Verras en geëerd. Ja, beslis.

6. Week ná week het die liedjie wat jy saam met jou gaskunstenaar op die program gesing het, boaan iTunes se treffersparade geboer. Was die reaksie vir jou oorweldigend?

Ja, dit was wonderlik. Maar die grootste lekkerte is om hierdie werke met al die kunstenaars in my persoonlike versameling te kan hê. Ek meen, ek het nie in my lewe gedink dat ek met al SA se topkunstenaars sou kon werk nie.

As jy 10 jaar gelede vir my gesê het dat ek en Rina Hugo Ave Maria gaan sing en dat dit in die jaar 2015 boaan iTunes se top-40 sou wees, het ek vir jou gelag.

Hel, jy sou saam met my gelag het.

7. Wag daar enige besonderse duetverrassings op kykers?

Vir my om te weet en julle om uit te vind!

8. Wat doen jy graag tussen opnames van seisoene? Hoe ontspan jy?

Lees, ry fiets, speel kitaar en gaan eet uit, kook kos of om ’n bietjie rond te rits met vriende en sekere (he-he) familie.

9. As jy dalk nie vir ’n tyd in jou Republiek kon wees nie, wie sou jy as waarnemende president in jou plek aanwys?

Francois van Coke of Rina Hugo.

? Die nuwe seisoen van Republiek van Zoid Afrika wys Donderdae-aande 20:30 op kykNET (DStv-kanaal 144)