Die derde seisoen van kykNET se gewilde geselsprogram Republiek van Zoid Afrika het Donderdagaand begin met Sandra Prinsloo en Snotkop as die eerste gaste.

Soos altyd het Karen die episode afgesluit met ’n gewilde treffer en Donderdagaand het sy en Snotkop die Carike Keuzenkamp-liedjie Dis ’n Land gesing.

Onmiddellik daarna is hul duet in Apple se Suid-Afrikaanse iTunes-winkel beskikbaargestel.

En nes in die vorige seisoen, was die lied oomblikke later ’n treffer: dit het gou-gou die tweede plek by Adele se Hello oorgeneem en nie lank daarna nie het dit Justin Bieber se Sorry van die topplek onttroon.

In volgende week se aflewering gesels Karen met die komediant Marion Holm en haar gunsteling-“broertjie” van die Onder-Kaap, Emo Adams.

Die Republiek van Zoid Afrika word Donderdae om 20:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.