Die skoonheidsreeks Kardashian Beauty sal binnekort in Stuttafords verkrygbaar wees. Company, ’n Kaliforniese maatskappy wat die lisensiëring behartig van produkte wat aan bekende name gekoppel word, het aangekondig dat sy Suid-Afrikaanse verspreider, Azulade Marketing, die reeks binnekort sal bekendstel. Company is gestig deur veterane in die skoonheidsbedryf wat hulle toespits op die bemarking van uitsoek-produkte wat met vermaak en ontwerp doen het.

Die skeppers, ambassadeurs en gesigte van hierdie nuwe grimeerreeks is die Kardashian-susters. Die Kardashians, wat wêreldwyd op televisie bekend is, wil graag hul toegang tot luukse formules met hul bewonderaars deel. Hulle is bekend om hul tekenende skoonheid, soos Kim se smeulende oë en Kourney se natuurlike sprankel.

Kardashian Beauty stel verbruikers in staat om die susters se kenmerkende voorkoms met produkte van hoë kwaliteit by die huis te verkry en net so mooi soos hulle te lyk. Kardashian Beauty bring jou boonop raad oor skoonheid en inligting vanuit die binnekringe. Kourtney, Khloé, Kim en hul grimeerkunstenaars verklap ook skoonheidsgeheime.

Kardashian Beauty sal vanaf 15 November te koop wees. Stuttafords verkoop reeds skoonheidsprodukte van gevestigde internasionale handelsmerke soos Estee Lauder, Dior, Cartier, Bulgari, Dolce & Gabbana en Clinique.

Die skoonheidsreeks sal aanvanklik net in die 15 Stuttafords-winkels verkrygbaar wees. Indien alles goed verloop, sal Kardashian Beauty in 2014 landwyd in 700 bykomende winkels verkoop word.

-         Deur Faiza Mallick

Bronne: www.boldfacegroup.com; http://www.kardashianbeauty.eu