Daarom is hy vanjaar bekroon as die senior Sjef van die Jaar by Unilever Food Solutions (UFS) se jaarlikse Sjef van die Jaar-uitdaging.

Van Suid-Afrika se beste sjefs kom elke jaar bymekaar om kragte te meet by Unilever se hoofkantore in Umhlanga Rocks in KwaZulu-Natal.

Dit is die oudste kookkompetisie in die land en is al langer as 40 jaar aan die gang.

“Kook is my lewe,” het Henrico na afloop van sy wen gesê.

“Dit is'n passie wat maak dat ek baie min tyd vir myself het, nie 'n verhouding vir lank kan hou nie en min slaap, maar dit is 'n passie wat uit die hart afkom.”

Henrico het vanjaar weggestap in die eerste plek en'n kontantprys van R20 000 gewen. Hy het meegeding teen sewe ander sjefs wat almal 'n driegangmaaltyd moes voorberei wat net uit Unilever Food Solutions-produkte bestaan.

Henrico is ook die kaptein van Suid-Afrika se Olimpiese kookspan wat in Oktober meeding.

“Ek is al vir 12 jaar deel van die SA-span,” sê hy.

Dié Olimpiese kosmakery vind elke vier jaar saam met die gewone Olimpiese Spele plaas. Vanjaar word daar in Duitsland gekook.

“Toe ek as 'n sjef begin het, wou ek altyd aan sport deelneem en ek het vir my baas gevra of ek kan afkry om te gaan speel. Hy het my egter net aangekyk asof ek iets gerook het,” skerts hy.

Henrico, wat tans die hoofsjef by die Cullinan Hotel in Kaapstad is, sê hy sal nou veel eerder aan die roer gaan as 'n bal skop.

“Ek sal enigiets doen om die industrie waarin ek is te ondersteun,” sê hy.