Die kaptein van die Troupant, wat Saterdag in Tafelbaai omgeslaan het, se lyk is gevind, het die Suid-Afrikaanse Maritieme Veiligheidsowerheid (Samsa) bevestig.

bootsinkmain

Hul waarnemende hoofbeampte het in ’n verklaring bevestig die polisie se duikeenheid sou die man se lyk uit die water haal.

Transnet se Nasionale Hawe-owerheid in Kaapstad-hawe het die Nasionale Seereddingsinstituut  Saterdagoggend ontbied nadat die skip omgekeer het met die kaptein en twee bemanningslede aan boord.

’n Boot is uitgestuur en die twee bemanningslede is gered.

“Die kaptein is in daardie stadium vermis. Albei oorlewendes is na die Victoria & Alfred-ankergebied geneem waar paramedici hulle vir skok en ander simptome behandel het,” het Samsa gesê.

Die nooddienste het hulle in ’n stabiele toestand hospitaal toe geneem. Die skip is toe in die Kaapse hawe vasgemeer om te verhoed dat dit wegdryf.

“Die Troupant het in die nag gesink. Die hawe-owerheid het Sondag ’n duikmaatskappy aangestel en ’n plan beraam om die skip weer vlot te maak.

Die kaptein se lyk is omstreeks kwart voor drie die middag gekry en die boot is halfvier boontoe gebring, het Samsa gesê.

Die voorval word ondersoek.

Bron: News24