Mans van Kaapstad lewe gemiddeld tot 54, terwyl hul eweknieë van Tshwane tot 52 lewe.

Vroue van Kaapstad lewe tot 64, terwyl vroue van Tshwane tot 56 lewe.

Die syfers vir die twee stadsgebiede is gegrond op Stats SA se verslag oor die dodetal en doodsoorsake vir 2011.

Hulle is in Tshwane uitgereik deur die statistikus-generaal, Pali Lehohla.

Terwyl dit wil voorkom of Kapenaars langer lewe as dié op die Hoëveld, het die verslag ook bekendgemaak dat 26 466 sterftes in 2011 in Kaapstad gerapporteer is.

Tshwane het op sy beurt 19 547 sterftes gehad.

Wat die hoofoorsake van natuurlike sterftes betref, was tuberkulose (TB) in albei areas ’n hooffaktor, met 8,2 persent in Tshwane en 6,6 persent en Kaapstad.

Chroniese asemhalingsiektes, diabetes, griep en longontsteking was ook hoog op die lys.

Sterftes wat veroorsaak is deur MIV-verwante siektes het baie meer in Kaapstad voorgekom, met 5,7 persent, terwyl dit in Tshwane 2,6 persent was.

Die dodetal het egter landwyd afgeneem; ’n totaal van 505 803 sterftes is in 2011 opgeteken, het Pali gesê.

“Die getal sterftes tussen 2010 en 2011 het met 7,7 persent afgeneem, terwyl die getal sterftes in die tydperke van 2009-2010 en 2008-2009 onderskeidelik met 5,6 en 2,6 persent afgeneem het,” het hy gesê.

Volgens Pali het KwaZulu-Natal die hoogste sterftesyfer gehad met 21 persent, Gauteng het 20 persent van die sterftes gehad en die Oos-Kaap was derde met 14 persent.

Altesaam 45 990 van alle sterftes was toegeskryf aan onnatuurlike oorsake.

Onnatuurlike sterftes sluit in ongelukke, aanrandings, komplikasies tydens mediese en chirurgiese prosedures en selfdood.

Die meerderheid sterftes het buite gesondheidsorgfasiliteite plaasgevind.

Volgens Pali was TB die hoofoorsaak vir sterftes in mans sowel as vroue. Die siekte was verantwoordelik vir 12 persent van die sterftes onder mans, en 10 persent onder vroue.

Griep en longontsteking was ook hoog op die lys hoofoorsake.

Kinders tot 14 jaar het meestal beswyk aan aansteeklike ingewandsiektes (14 persent), griep en longontsteking (10 persent) en asemhalings- en kardiovaskulêre siektes (9 persent).

MIV het die dood veroorsaak van 7 persent van mense tussen 15 en 49 jaar oud. Griep en longontsteking het dieselfde persentasie mense geëis, terwyl 18 persent aan TB oorlede is.

Dit het ook geblyk dat TB die hoofoorsaak was van sterftes onder mense tussen 50 en 64 jaar. Dié siekte, en serebrovaskulêre siektes, het 6 persent van sterftes veroorsaak.

Mense van 65 en ouer is hoofsaaklik aan serebrovaskulêre siektes dood (18 persent), terwyl 8 persent aan ander hartsiektes oorlede is. Diabetes het 7 persent van sterftes in dié ouderdomsgroep veroorsaak.

Die verslag het ook onthul dat onnatuurlike sterftes in die ouderdomsgroep 15-49 (met 15 persent) die hoofoorsaak vir sterftes was.

Van alle onnatuurlike sterftes was 61 persent daarvan beserings deur ’n ongeluk, 11 persent was aanrandings, 14 persent was veroorsaak deur onbepaalde oorsaak en 3 persent deur mediese en chirurgiese komplikasies (insluitend komplikasies by swangerskap en geboorte).

Voertuigongelukke was verantwoordelik vir 11 persent van onnatuurlike sterftes, en 1 persent was veroorsaak deur selfdood.

Die hoofoorsake van sterftes onder swart en bruin mense was TB, met onderskeidelik 12 en 8 persent.

Die meeste sterftes onder Indiërs was veroorsaak deur diabetes (13,5 persent), terwyl sterftes onder wit mense meestal deur hartsiektes veroorsaak is (11,3 persent).

Sterftes onder vroue is die hoogste in die ouderdomsgroep 30-34, terwyl dit vir mans tussen 35 en 39 is.

“Die dodetal neem in die algemeen af, veral onder vroue,” het Pali gesê.

Hy het ook verduidelik dat die 2011-verslag eers vanjaar uitgereik is omdat daar ’n oponthoud was met die nodige inligting.

Die verslag vir 2012/2013 gaan na verwagting later vanjaar bekendgemaak word.