Met die begin van die langnaweek kan Kapenaars op Vrydag 16 Junie ’n taamlik warm winterdag verwag, met ’n verwagte maksimum temperatuur van 19 °C.

Helder lug kan verwag word en dit sal ’n aangename winterdag in die Kaap wees, hoewel ’n swak kouefront Vrydagaand oor Kaapstad sal inbeweeg, het Henning Grobler, ’n weervoorspeller van die Suid-Afrikaanse Weerdiens, gesê.

Die kouefront sal Saterdag oor Kaapstad beweeg en ligte reënbuie word Saterdagoggend verwag.

Dit is net ’n ligte reënbui wat Saterdag sal uitsak en die lug sal later in die dag weer ophelder, met ’n verwagte maksimum temperatuur van 16 °C, sê Henning.

Sondagoggend sal dit bewolk wees, maar daar sal min of geen kans op reën wees, met ’n verwagte temperatuur van 18 °C.

Ná die naweek keer die bibberweer Maandag terug as gevolg van ’n verwagte swak kouefront wat weer sal inbeweeg.

Ligte reënbuie word danksy dié kouefront verwag.

Die res van die Wes-Kaap kan ook min of geen reën verwag. Slegs in die suidweste word reënbuie voorspel. 

Gautengers kan ook ’n heerlike warm naweek verwag met maksimum temperature van 22 °C vir vandag en môre.

Dit gaan egter koel en gedeeltelik bewolk wees in sekere dele, met minimum temperature van 6 °C vir Saterdag en 7 °C vir Sondag en Maandag.

In KwaZulu-Natal kan ’n warm winterdag verwag word, met temperature wat Saterdag sal styg tot 28 °C. In hierdie provinsie sal dit gedeeltelik bewolk wees.

In die Noordwes-Kaap kan hulle regmaak vir ’n koel dag, maar warm in die noordelike dele.

As Suid-Afrikaners gehoop het op reënbuie, moet hulle maar wag tot die hemelsluise na verwagting volgende week oopgetrek word.