Kaapstad – ’n Kaapse man wat deur sterk wind 5 km see-in gewaai is, het dié beproewing wonderbaarlik oorleef.  

Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), sê in ’n verklaring: “’n Vrou het die NSRI by die Melkbosstrand-reddingsbasis omstreeks seweuur die aand genader en vertel haar 51-jarige kêrel het nie huis toe gekom nie. Die man is van Table View.

“Sy het gesê hy is omstreeks eenuur die middag by Melkbosstrand op sy roeiski die water in, maar het nie teruggekeer nie, en sy voertuig is steeds op ’n parkeerterrein aan Melkbosstrand se seekant geparkeer.”

Craig sê die vrou het bekommerd geraak toe sy van die werk af kom en haar kêrel nog nie tuis was nie.

Hy sê ’n NSRI-span en die polisie het ’n soektog na die man van stapel gestuur. Kort nadat hulle met die soektog begin het, het die polisie gesien ’n man het na die geparkeerde voertuig teruggekeer. Hulle het hom genader en vasgestel hy is die man na wie hulle soek. Hy was veilig en ongedeerd, sê Craig.

Craig sê die man het vertel sterk wind het hom see-in gedryf.

“Hy skat hy is sowat 5 km see-in getrek, maar hy kon later sowat 3 km noord van die Koeberg-kernkragsentrale die kus bereik.

“Hy het sy roeiski langs strandlangs getrek tot hy die heining by die Koeberg-aanleg bereik het. Hy het sy roeiski daar gelos en gestap . . . tot hy by die Koeberg-aanleg se veiligheidsheining gekom het.”

Craig sê veiligheidswagte het die man ’n saamrygeleentheid gegee tot waar hy later gevind is.

Hy sê veiligheidspersoneel van die Koeberg-kragaanleg het die man se roeiski Dinsdagoggend gekry.

Bron:  News24