Kanye West wil hê Anna Wintour moet sy meisie en dogter op die voorblad van Vogue sit.

Die rapper het ander tydskrifte se aanbiedinge van tot R30 miljoen vir ’n eerste foto van baba North van die hand gewys, maar probeer nou die redakteur van Vogue, ’n goeie vriendin van hom, oorreed om Kim Kardashian, sy meisie, en hul twee maande oue dogter op die voorblad van die Amerikaanse tydskrif te plaas. Moeilike ene, veral omdat Anna nie van die ster van Keeping Up with the Kardashians hou nie.

’n Bron na aan Kanye (36) het aan die skinderwebtuiste RadarOnline.com gesê: “Dis geen geheim dat Kanye gek is oor modes, Vogue en veral oor Anna Wintour nie.

“Maar dis ook taamlik bekend dat Anna nie wil hê Kim of enige ander werklikheidster moet in die tydskrif verskyn nie. Kanye is vasbeslote om te keer dat baba North deur die paparazzi afgeneem word en dat die foto’s dan oor die wêreld versprei word. Hy weet wat hy wil hê: ’n beroepsfotograaf en die voorblad van Vogue. Niks anders nie. Maar dis duidelik dat dit ’n opdraande stryd sal wees om Anna te oorreed.”

Anna (63) is glo “minder as geesdriftig” oor die idee, maar Kanye weier om nee as ’n antwoord te aanvaar. Hy het onlangs statistieke opgetrek om Anna te wys Kim is baie gewild onder haar lesers en het tydskrifte in die verlede gehelp om hul verkoopsyfers te verbeter.

Hy het ook met die hoogaangeskrewe fotograwe Annie Leibovitz (63) en Mario Testino (58) gesels om ’n eksklusiewe reeks foto’s van sy gesin te neem. Die bron het bygevoeg: “Kanye is oortuig daarvan dat hy dit sal laat gebeur.”

Anna het glo onlangs haar goedkeuring uitgespreek toe Kanye haar vertel sy dogter se naam is North West.

’n Bron het tevore gesê: “Dis nie hoekom hulle haar North genoem het nie, maar dis lekker om Anna se seën te hê.”

Anna het na bewering verhoed dat Kim (32) verlede jaar die glansryke Met Ball Gala bywoon, hoewel ’n mens kaartjies daarvoor kon koop, en haar net toegelaat om vanjaar as Kanye se metgesel te gaan omdat hy daar opgetree het.