Kanye West wil volgende somer met Kim Kardashian trou.

Die rapper, wat die werklikheidstelevisiester verlede week op haar 33ste verjaardag die jawoord gevra het, het onthul hulle sal waarskynlik in die somer van 2014 trou. Hy beplan ’n spoggerige plegtigheid kompleet met vliegtuie. Hy het geskerts: “Een woord: vegvliegtuie.”

Die 36-jarige Kanye, wat ’n vier maande oue dogter, North, by Kim het, het hart oopgemaak oor sy oordadige huweliksaanbod by die AT&T Park-stadion in San Francisco vroeër vandeesmaand. Hy het erken hy was senuagtig daaroor om op die een knie af te sak.

Kanye het die hele bofbalstadion vir die groot oomblik bespreek. Hy het ’n orkes gehuur en gereël dat vuurwerke die lug verlig toe hy sy geliefde vra om met hom te trou terwyl haar familie en vriende toekyk.

Die perfeksionistiese rapper sê hy wou hê alles moes seepglad verloop. Hy het gehoop dat Lana Del Rey vir hom en Kim kon optree, maar moes met ’n orkesweergawe van haar liedjie Young and Beautiful tevrede wees.

Kanye het ook onthul hy het 24 uur voor die huweliksaanbod van plan verander oor die verloofring en eers op die dag van die groot vraag die ring van 15 karaat gekies.