Kanye West het aangedring sy aantrekkamer se mat moet gestryk word.

Kanye (36) het Dinsdag voor sy verskyning op die Later . . . with Jools Holland-program ’n opskudding met sy buitensporige versoeke veroorsaak.

Nadat die rapper in Maidstone, Kent, vir ’n repetisie opgedaag het, was hy ontevrede met sy ateljee. Hy het op die personeel gegil om dit volgens sy oorspronklike planne te herbou. Hy wou ook hê alles in sy aantrekkamer moes wit wees, van die mure tot die rusbank en blomme.

Die sanger van Black Skinhead het ook meer as die helfte van die 15 aantrekkamers wat aan die deelnemers beskikbaar gestel is, vir hom en sy span opgeëis. Sting en Kings of Leon het ook ook aan die program deelgeneem.

Die grootste skok vir BBC-werknemers was toe hy sê sy mat moet met ’n warm apparaat gestryk word.

’n Bron het aan The Sun gesê: “Almal weet Kanye is moeilik, maar niemand het nog ooit gehoor van ’n mat wat gestryk moet word nie. Hoewel baie ander sterre ook daar was, het sy span die ateljee oorgeneem. Gelukkig was hy tydens sy optrede rustig en maklik.”