Kanye West wil so gou moontlik met Kim Kardashian trou.

Nadat hul eersteling Saterdag in Los Angeles gebore is, wil die rapper (36) so gou moontlik begin beplan aan ’n troue met sy meisie van meer as ’n jaar. Hy wag net dat ma en dogter uit die Cedars-Sinai-mediese sentrum ontslaan word.

“Hulle sal binnekort hul volgende projek, ’n troue, begin beplan. Hy wil beslis met haar trou. Hy was nog heeltyd aan haar sy,” het ’n bron aan die tydskrif People gesê.

Kim is glo vooraf ingelig dat sy dalk voor haar babadogter se geboorte die lewensgevaarlike toestand pre-eklampsie kan kry. Dokters het die 32-jarige werklikheidstelevisiester, wat vyf weke te vroeg die lewe geskenk het, gewaarsku dat haar bloeddruk hemelhoog is en dat “dit nie goed gaan met die baba nie”, maar sy kon steeds natuurlik kraam.

“Kim was bang, maar Kanye was selfs meer senuagtig,” vertel iemand aan die binnekring aan die tydskrif US Weekly. “Hy het baie vrae gevra terwyl hy op en af geloop het. Hulle was albei baie stil.”

Die ster van Keeping Up With the Kardashians pas blykbaar goed aan by moederskap, maar sukkel met borsvoeding. “Kim doen dit, maar dit lyk of sy sukkel,” het ’n bron aan die skinderwebtuiste RadarOnline.com gesê.

“Sy beplan om dit nog ’n ruk lank te probeer, maar sal dalk op die ou end oorskakel na die bottel.”