Die rapper van die liedjie Bound 2 is so omgekrap, hy wil Yves ’n les leer en vra New Yorkers moet ophou hul produkte koop.

Kanye het op die radiostasie 92.3 NOW in New York gesê: “Ek wou (Yves) in Parys ontmoet. Hy het gesê: ‘Ek verstaan nie hoekom ons jou moet ontmoet nie?’ En ek sê toe laat ek verduidelik hoekom jy my moet ontmoet. Ek vra dat almal in New York geen Louis Vuitton-produkte tot ná Januarie moet koop nie. Wil jy my nou ontmoet? Invloed. Hulle dink ek weet nie hoeveel mag ek het nie.”

Of New Yorkers hieraan gehoor gaan gee, is ’n ope vraag. Kanye het intussen sy verloofde, Kim Kardashian, se familie geloof en gesê hulle kry nie genoeg erkenning vir die goeie wat hulle doen nie. Hy glo hulle het gehelp om mense se menings oor verhoudings tussen verskillende rasse te verander.

Kim se suster, Khloé, is getroud met die Afro-Amerikaanse basketbalster Lamar Odom en haar jonger susters het ook al met swart ouens uitgegaan. “Die Kardashians het Amerika veelrassige verhoudings help aanvaar,” het hy aan Radio.com gesê.

“Ek praat nie van myself nie. Ek kan op ’n vliegtuig klim. Ek kan met ’n wit vrou uitgaan; ek kan met ’n swart vrou uitgaan. En dit maak nie saak wat hulle in die haarsalon daarvan sê nie, want ek laat sny nie my hare daar nie. Maar vir die gewone mense, vir die wit vrou wie se vriende haar laat deurloop omdat sy met ’n swart ou uitgaan, is dit ’n verwysingspunt. Sy kan nou sê: ‘Wel, daardie paartjie is nogal koel.’”