Yeezy het sy voet neergesit.

[caption id="attachment_116859" align="alignnone" width="599"]Foto: Cover Foto: Cover[/caption]

Gister het RadarOnline berig alles is nie net maanskyn en rose in die Kardashian-West-huishouding nie en dat die werklikheidstelevisiester dalk selfs haar rapper-man wil los.

Volgens die skindernuuswebtuiste volg dit op Kanye se vreemde Twitter-oorlog met die rapper Wiz Khalifa en dié se eksvrou (en Kanye se eksmeisie) Amber Rose.

Kanye het nie net vir Amber en Wiz woedend gemaak nie. Sy vrou was verneder en het “van haar kop af geraak en hom uit die huis geskop oor sy openbare galbrakery”.

Lees ook: Kim Kardashian en Kanye West onthul seuntjie se naam

“Sy was so kwaad dat sy nie vir Kanye in die huis wou toelaat nie,” het ’n bron aan die tydskrif Life & Style gesê. “Sy het al die kodes verander en sekuriteit gevra om hom nie deur die hek toe te laat nie.”

Maar Kanye, wat sy gesin glo met ’n ystervuis regeer, het sy voet neergesit. “Kanye het vir Kim gesê sy mag niks oor hom sê nadat Amber Rose daardie walglike twiet oor hom gedeel het nie. Hy’t gesê sy mag nie betrokke raak nie, dat dit sy probleem is en dat hy dit sal hanteer soos hy wil en dat sy niks mag skryf nie.”

En die foto wat Kim en Amber albei ná die uitval op Instagram gedeel het? Dis glo alles deur Kanye gereël. “Hy wou hê Kim moet vir sy onthalwe vrede met Amber maak. Hy’t vir haar gesê wat sy moet doen en sy het natuurlik na hom geluister.”

Dit het nog altyd gelyk of Kim dolverlief is op die pa van haar kinders, North (2) en Saint (6 maande), maar daar is duidelik een ding wat nog belangriker is vir haar: haar beeld.

“Kim kan dit nie verdra hoe Kanye dinge nou regstel met ’n beeldpoetsery nie en dink hy mors met haar openbare beeld,” vertel nog ’n bron.

Lees ook: Khloe help ousus Kourtney om fiks te bly

Dinge is glo al ’n ruk lank nie lekker tussen die paartjie nie en Kanye se onlangse uitbarstings het sake vererger. “Die jongste drama het net vir haar bewys hoe afbrekend Kanye is,” vertel iemand in die binnekring. “Sy is oortuig daarvan as sy by hom bly, gaan hy haar saam met hom vernietig.”

’n Woordvoerder vir Kim het egter aan OK! Online gesê daar steek geen waarheid in die gerugte nie.

Bronne: RadarOnline, MailOnline, OK! Online

Saamgestel deur Kirstin Buick