Aanhangers gaan dalk op Keeping Up with the Kardashians kan sien hoe Kanye West Kim Kardashian vra om te trou.

Die rapper (36) het Kim (33), met wie hy al 19 maande uitgaan, Maandagaand by die AT&T-stadion in San Francisco, Kalifornië, die jawoord gevra. Hy het op sy een knie afgesak en haar ’n verloofring van 15 karaat gegee. Hy het ook nogal toegelaat dat die kameras van haar E!-werklikheidstelevisiereeks die spesiale oomblik op haar 33ste verjaardag vaslê.

’n Bron sê Kanye moet nog finaal toestemming gee dat die romantiese tonele op die program vertoon mag word.

Nog ’n bron vertel Kanye, wat ’n vier maande oue dogter, North West, by Kim het, het die stadion met ’n uitsig oor die ikoniese Bay Bridge vir sowat R350 000 gehuur. Hy het glo ook 50 lede van ’n orkes elk vier keer meer betaal as wat hulle gewoonlik vir ’n privaat vertoning verdien om Lana Del Rey se Young and Beautiful en sy treffer Knock You Down te speel.

’n Lid van die orkes het aan die skinderwebtuiste TMZ.com gesê lede is tot R10 000 elk vir die kort optrede betaal en was verplig om ’n vertroulikheidsooreenkoms te onderteken toe ’n “baie betrokke” Kanye hulle net twee dae voor die tyd aangestel het.