Kanye West sê Kim Kardashian en hul dogter, North West, is sy “vreugde”.

Die 36-jarige rapper het sy verhouding met die werklikheidstelevisiester (32) verdedig en openlik oor sy liefde vir haar en hul twee maande oue baba gesels.

Hy het aan Kim se ma, Kris Jenner (57), op haar geselsprogram, Kris, gesê: “Mense sê dalk die verhouding gaan my geloofwaardigheid as ’n kunstenaar of ontwerper benadeel, maar ek sê, jy weet, ek gee nie om nie, ek het hierdie vrou lief. Ek is lief vir hierdie mens. Sy is dit vir my werd.”

Terwyl hy gepraat het oor sy oupa Portwood Williams sr., wat op 10 Augustus oorlede is, het Kanye bygevoeg: “Vir hom het dit net gegaan oor vreugde, om vreugde in sy lewe te hê. Kim is my vreugde en sy het my nuwe vreugde in die wêreld gebring.”

’n Emosionele Kanye het ook onthul Kim en North het hom gehelp om die dood te verwerk van sy geliefde ma, Donda. Sy is in 2007 dood as gevolg van komplikasies weens kosmetiese chirurgie, insluitende ’n borsverkleining.

Hy het gesê: “Daar was tye ná haar dood dat ek my lewe in gevaar sou stel. Ek het niks gehad om voor te leef nie. Nou het ek twee baie spesiale mense om voor te leef, ’n hele gesin om te versorg, ’n hele wêreld om voor te leef.”