Kris Jenner het bevestig haar dogter Kim Kardashian en dié se kêrel, Kanye West, bly steeds by haar.

Die paartjie het ná die geboorte van hul dogter, North West, in Junie by Kris in haar herehuis van 929 m² in Calabasas, Kalifornië, ingetrek omdat hul nuwe huis van R90 miljoen in Bel Air nog opgeknap word. Kris het ook verklap die 36-jarige rapper is ’n goeie toevoeging tot hul huishouding.

Die 57-jarige geselsprogramaanbieder het aan Extra gesê: “Hy is ’n fantastiese ou. Ons woon saam. Hy is my kamermaat. Hy is ’n wonderlike ou en hy is so skoon. Hy is so ’n wonderlike lid van my familie.”

Kris se man, Bruce Jenner (63), en hul jongste kinders, Kendall (17) en Kylie (16), woon ook nog daar.

Kris het ook vertel dat dit goed gaan met Kim, wat sedert haar dogter se geboorte ’n lae profiel handhaaf.

Sy het gesê: “Kim voel so goed. Sy voel gesond, sy het energie, sy lyk goed, sy eet reg. Sy doen al die dinge wat ’n nuwe ma nou behoort te doen.”

Kris het ook bevestig dat Kim (32) nie planne het om binnekort weer in die kollig te wees nie, aangesien sy “die baba geniet”. Sy verfilm wel steeds hul E!-werklikheidsreeks Keeping Up with the Kardashians.

Sy het bygevoeg: “Hulle wil nou net nes skrop. Hulle dink nie aan besigheid nie. Kim doen beslis Keeping Up with the Kardashians.”

Kanye spog trots met die eerste foto van North in ’n onderhoud met Kris in haar program Kris, wat op Vrydag 23 Augustus uitgesaai word.