Die werklikheidstelevisiester (32) volg glo reeds ’n streng dieet en oefen daagliks saam met haar persoonlike afrigter om soveel moontlik gewig te verloor voor sy die eerste keer in die openbaar verskyn sedert haar eersteling, North West, op 15 Junie gebore is. ’n Bron het aan die tydskrif In Touch gesê die brunet het in die kraamsaal “sonder ophou oor haar lyf gepraat” en “haar susters gedurig gevra of sy kleiner en maerder lyk nadat sy die lewe geskenk het. Kim is obsessief daaroor om die babagewig af te skud – en vinnig ook. “Sy glo regtig sy kan die eerste 13 kg in die eerste maand afskud. Sy wil teen die einde van die somer goed lyk in ’n bikini. Sy het baie groot geraak. Sy wil nou so sexy moontlik lyk.” Al het sy regdeur haar swangerskap saam met die bekende afrigter Tracy Anderson gewerk, is Kim bekommerd dat haar lyf nooit weer dieselfde sal lyk nie. Die bron het vertel: “Sy is doodbang sy sal nooit haar lyf terugkry nie. Almal sê vir haar sy moenie stres nie; dat dit daaroor gaan om te gesond wees en ’n goeie ingesteldheid vir jou baba te hê, nie om al die gewig dadelik te verloor nie. Maar haar gesin weet Kim sal op die ou end doen wat sy wil.” Nog ’n bron beweer Kim voel Kanye (36) plaas druk op haar om te verslank. Die bron het gesê: “Toe Kim gewig aansit, was Kanye se visie vir haar swangerskapmode daarmee heen. Hy is nie ingenome met hoeveel gewig sy aangesit het nie – en sê dis haar werk om dit so gou moontlik af te skud.”