Kanye West is “waarlik lief” vir Kim Kardashian en hy sê hy het in haar werklikheidstelevisieprogram verskyn omdat hy haar wou gelukkig maak. Die 36-jarige rapper is gewoonlik baie privaat, maar het verskeie kere op Keeping Up with the Kardashians verskyn omdat hy Kim (32) “liefhet en haar wil gelukkig maak”. In ’n onderhoud in W Magazine se Augustus-uitgawe het hy gesê: “Dis alles vir liefde. Dis so eenvoudig. Op ’n sekere punt, of altyd, is liefde belangriker as enige handelsmerk, of enige groep koel mense, of om iemand te probeer beïndruk. Gedagtes en gevoelens kan soms verskil.” Kanye het ook onthul Kim se mode-eksperimente, wat dikwels deur die pers en die publiek gekritiseer word, is ’n teken van haar liefde vir hom, want hy moedig haar aan om nuwe dinge op die proef te stel. Hy het gesê: “Niemand kan vir my meisie sê wat om te doen nie. Gee haar net inligtingplatforms om mee te werk. Die feit dat sy daardie risiko voor die wêreld neem, wys hoe lief sy my het. En hoe graag sy leer. Jy het ’n miljoen ondernemings wat sê: ‘Dit het ’n uitwerking op jou handelsmerk! Dit het ’n uitwerking op jou aanhangers! En blah, blah, blah.’ Maar sy sien steeds hierdie lig van skoonheid.” Terwyl Kanye smoorverlief is op Kim – wat verlede week die lewe geskenk het aan hul eersteling, North West – het hy erken hy het verlede jaar oorweeg om ’n kopie van ’n seksvideo van hom en sy vorige meisie uit te reik toe hy met afpersing gedreig is. Hy het verduidelik: “Ek sal eerder wil hê dat mense een van daardie tuisvideo’s het as party van die paparazzi-foto’s wat gepubliseer word. Ten minste het ek die *** self opgeneem. Daardie band sou my geensins seergemaak het as dit uitgekom het nie – dit kon net gehelp het. “Nou doen ek net wat ek wil, wanneer ek wil, hoe de *** ek wil. ‘*** jou’ is my boodskap.”