Toe die 11-jarige Kylie Simonds van die Amerikaanse deelstaat Connecticut iets as deel van ’n skoolprojek moes ontwerp, het sy geweet haar stryd teen kanker sal die inspirasie agter haar skepping wees.

Die vernuftige laerskoolmeisie het toe ’n spesiale rugsak ontwerp wat kankerlyers kan gebruik om hul binneaarse chemoterapie te ontvang.

Daar is drie jaar gelede soort ’n weefselkanker by Kylie gediagnoseer en sy onthou die lomp, onpraktiese masjien waarmee sy haar chemoterapie moes ontvang. Hoewel ’n chemoterapie-sessie soms tot agt uur lank kan wees, is die kinders dikwels steeds beweeglik en sou hulle die terapie kon ontvang en steeds met hul gewone aktiwiteite kon volhou, was dit nie vir die masjiene wat hulle oral moes rondstoot nie.

“Ek moes met pale loop en het heeltyd oor die die bedrading gestruikel. Dit was moeilik om te loop, en daar moes altyd iemand wees wat die masjien vir my stoot omdat ek weens die chemoterapie swak was,” het sy aan WTNH.com gesê.

Dit is hoekom Kylie haar rugsak vir kinders ontwerp het. Hiermee kan kankerlyers hul chemoterapie op ’n gerieflike wyse ontvang.

backpack-elite-daily

Die pasiënt se drup en medikasie word in die rugsak ingebou en dit is lig en maklik om rond te dra.

Nie net was haar onderwysers beïndruk met die skepping nie, die rugsak is ook bekroon by ’n onlangse konferensie wat op haar tuisdorp gehou is.

Sy het die konferensie se hoogste prys vir die beste uitvindsel gewen en haar rugsak gaan boonop nou gepatenteer word.

Mieke Vlok

Brone: gofundme.com, wtnh.com, elitedaily.com