’n Gipsafdruk van sy handjie staan langs die kissie met sy as in die voorportaal van sy ouerhuis en in die voortuin is ’n spesiale tuintjie wat hulle vir hom aangeplant het. 

Jacques het drie keer kanker gehad, maar anders as die vorige twee kere kon hy die laaste keer nie weer die siekte klop nie. 

Jaco (37), Lizel (31), Jacques, Rian (5) en Carika (2) het 5 dae voor Jacques se tragiese afsterwe almal saam gipsafdrukke van hul hande laat maak.  

“Ons het die gipshande gedoen ’n paar dae voor Jacques Hemel toe is gedoen. Ons het vanmiddag die kissie met sy as gekry en ons kerk het die mooi kersie vir ons gegee,” lees Lizel se Facebook-inskrywing op die Gebed vir Jacques-blad.

Lizel het Dinsdag ook ’n foto van Jacques se tuin op die Gebed vir Jacques-blad gedeel.

“Jou tuin lyk pragtig, Jacques. Oupa het aan die voëlhuisie ’n staander gesit. Dit gaan so pragtig lyk as al die blomme vol in blom is en die voëls kom eet, kort nog net ’n waterbakkie,” lees die inskrywing daarby. 

Met Jacques se dood het talle vriende en familie potplante en selfs bome aangedra. Liezel het toe besluit om vir hom ’n tuintjie te maak.

“Ons het ook die twee roosbome, die vyeboom en olyfboom geplant,” vertel Lizel. 

“Jacques my lief, uit stof het God ons gemaak en as stof sal ons die aarde verlaat, met hope herinneringe. Jy is net die mooiste, met die mooiste hart!

"Ons sal jou vir ewig en vir altyd vashou in ons harte en ons sê dankie aan die Here vir die tyd wat jy by ons was hier op aarde, jy het ons lewens kleurvol gemaak,” skryf sy by die foto van die gipshande en kissie. 

“Ons het die gipshande gedoen ’n paar dae voor Jacques Hemel toe is gedoen. Ons het vanmiddag die kissie met sy as gekry en ons kerk het die mooi kersie vir ons gegee,” lees Lizel se Facebook-inskrywing op die Gebed vir Jacques-blad.

Neuroblastoma, ’n skaars soort kanker, is in 2013 by Jacques gediagnoseer. Sedertdien het hy twee keer met behulp van chemoterapie die siekte oorwin.

In November 2014 het toetsresultate aangedui dat hy skoon van kanker is. Maar ’n paar maande later, in April 2015, het die kanker weer verskyn.

Die volgende jaar in September in 2016 het toetsresultate weer eens aangedui dat die kanker weer in remissie is. 
Maar in Desember 2016 het Jacques weer ’n terugslag gehad en hy het so verswak dat hy mettertyd nie meer kon loop nie.

Beenmurgkanker is in Januarie 2017 by hom gediagnoseer. 

“Sy boetie en sussie verlang vreeslik baie na hom. Hulle vra gereeld waar hy is,” het Lizel Woensdag aan Huisgenoot.com vertel.

“Jacques het erg agteruitgegaan toe ons hom op 1 Julie na die Wits Hospice toe neem. Hy is eers twee dae later ontslaan. Ons het op pad huis toe sommer by ’n kunswinkel gestop en die deeg gekoop. Die gipshandjies is vyf dae voor hy oorlede is gemaak.”