Rita, wat met die akteur Tom Hanks van Castaway-faam getroud is, het die nuus Dinsdag in ’n verklaring gedeel. Behalwe dat sy albei borste laat verwyder het, het sy ook rekonstruktiewe chirurgie ondergaan. “Ek het ’n blaaskans van die toneelstuk Fish in the Dark geneem om ’n persoonlike gesondheidsprobleem uit te stryk. Ek het verlede week, met my man aan my sy en die liefde en ondersteuning van my familie en vriende, ’n bilaterale mastektomie en rekonstruksie vir borskanker ondergaan nadat infiltrerende lobulêre karsinoom by my gediagnoseer is,” het sy in ’n verklaring aan die tydskrif People gesê.

'Ek’s op die herstelpad en, belangriker nog, sal na verwagting ten volle herstel.'

“Ek’s op die herstelpad en, belangriker nog, sal na verwagting ten volle herstel. Hoekom? Omdat dit vroeg opgespoor is, ek uitstekende dokters het en omdat ek ’n tweede mening gekry het.”

Rita (58) het ’n paar jaar lank ’n onderliggende toestand – lobulêre karsinoom in situ – gehad wat met jaarlikse mammogramme en skanderings gemonitor is. Ná twee onlangse chirurgiese biopsies is pleomorfiese karsinoom in situ ontdek, maar die patologietoetse het geen tekens van kanker getoon nie. ’n Vriendin het haar nogtans aangeraai om ’n tweede mening te kry, wat getoon het dat daar wel kanker is.

“Ek deel dit om ander op te voed oor die feit dat ’n tweede mening uiters belangrik vir jou gesondheid is. Jy het niks om te verloor as albei opinies goeie nuus het nie en alles om te baat as iets wat misgekyk is, raakgesien word, en dit gebeur. Vroeë diagnose gee die deurslag.”

Rita, wat in onder meer Sleepless in Seattle, Runaway Bride en It's Complicated gespeel het, het haar man van 26 jaar bedank omdat hy haar anker in dié traumatiese tyd was. “Ek voel geseën om ’n liefdevolle, ondersteunende man, familie, vriende en dokters te hê sodat ek kan baat vind by die vooruitgang in borskankerbehandeling en -rekonstruksie. Ek raak elke dag beter en sien uit na hernude gesondheid.”

© Cover Media