Inwoners van die Oudtshoorn-omgewing is gerusgestel dat daar nie rede tot paniek is na 'n aardbewing die streek vroeër Dinsdag getref het nie.

Geen skade is in hierdie stadium aangemeld nie en die sluiting van die Kango-grotte is bloot 'n tydelike maatreël. Volgens 'n ondersoek deur seismoloë het die aardbewing sowat 6 km ondergronds plaasgevind.

Vroeër vanoggend

’n Aardbewing wat 3,5 op die Richterskaal registreer het, het Dinsdagoggend rondom 08:20 die Oudtshoorn-omgewing getref.

Volgens die George Herald is die Kango-grotte gesluit as voorsorgmaatreël.

Gerard Otto, hoof van Eden-distriksmunisipaliteit se rampbestuur, het aanbeveel dat dié bekende toeriste-aantreklikheid voorlopig gesluit moet word.

Mense uit De Hoek en selfs in George, het die aardbewing ervaar.

Volgens ’n bron in Oudtshoorn, het van die besoekers aan een van die plaaslike koffiewinkels bevestig dat hulle wel ook die aardbewing gevoel het.