Matthew Perry het as skoolseun die toekomstige Kanadese premier Justin Trudeau opgedons. Die voormalige Friends-akteur was ’n paar grade voor die politikus in die laerskool Rockcliffe Park, in Ottawa, Kanada. Matthew het erken hy en sy pel het Justin eenkeer geboelie omdat hulle was jaloers was op sy talente. Justin se pa, Pierre Trudeau, was toe nog premier van Kanada.

“My vriend, Chris Murray, wat ook in graad vyf was in Kanada, het my daaraan herinner dat ons sowaar vir Justin Trudeau opgedons het,” het hy Woensdagaand op Jimmy Kimmel Live! onthul. Hy kon nie eens onthou waaroor hulle baklei het nie.

“Ek dink hy het in ’n sportsoort uitgeblink waarin ons nie hond haaraf kon maak nie; dus was dit suiwer jaloesie. Ons het hom opgedons,” het hy vertel. “Ek spog nie hieroor nie. Dit was verskriklik. Ek was ’n onnosele kind.”

Volgens die 47-jarige Matthew wou hy nie vir Justin (nou 45) slaan nie, en het grappenderwys gesê hy het premier geword met hul “samewerking” om hom daartoe te inspireer

“Ek dink sy woorde was: ‘Ek gaan bo dit uitstyg en ek gaan premier word.’ ”

Justin het nie sekerheidswagte gehad toe hy die staatskool bygewoon het nie, al was hy die seun van Kanada se leier. Matthew het Jimmy verseker hulle het hom nie om daardie rede geteiken nie.

“Ek dink nie dis hoekom ons hom geslaan het nie. Ek dink hy was maar net die enigste kind in die skool wat ons kon slaan.” was sy woorde.

Op Jimmy se vraag of hy ooit met die politikus daaroor gepraat het, het die akteur, wie se ma Pierre Trudeau se perssekretaresse was, geantwoord hy het dit nie gedoen nie, want hy voel “te skaam” oor die gebeure.

Trudeau het in November 2015 diens aanvaar.

© Cover