In hierdie stadium is sy nog net ’n verdagte, sê Luvuyo Mfaku, NVG-woordvoerder. Volgens hom is die Valke nog besig met hul ondersoek na wie pres. Zuma in Junie 2014 probeer vergiftig het.

Ntuli-Zuma, beter bekend as MaNtuli, is ’n verdagte in die Valke se ondersoek rakende ’n komplot om Zuma om die lewe te bring.
Die Sunday Times het die afgelope naweek berig sy is in Januarie verlede jaar uit Nkandla geskop deur David Mahlobo, minister van staatsveiligheid. Die rede was glo reeds omdat Ntuli-Zuma by die komplot om die president te vergiftig betrek kon word.

Volgens die Sondagkoerant het Zuma in Junie 2014 siek geword. Tydens ’n reis na Amerika in Augustus 2014 het dokters daar agtergekom die president is vergiftig. Russiese doketrs het ook hierdie bevinding ’n paar weke later bevestig tydens ’n besoek aan daardie land

Ntuli-Zuma en die president is tans van mekaar vervreem.

Luvuyo sê daar was kommunikasie tussen Ulrich Roux, Ntuli-Zuma se regsverteenwoordiger en Shaun Abrahams, direkteur van openbare vervolging, rakende die status van die ondersoek. Volgens Luvuyo was dié kommunikasie veronderstel om vetroulik te wees. Volgens die Sunday Times het Roux gesê sy kliënt is al in April verlede jaar van poging tot moord aangekla. Sedertdien sukkel Ntuli-Zuma om haar naam in ere te herstel en kan niemand vir haar sê wat die stand van die ondersoek is nie. “Die direkteur van openbare vervolging het aan Roux geskryf dat die saak nog deur die Valke ondersoek word en dat hul kliënt ’n verdagte in die ondersoek is,” sê Luvuyo. “Sy is nie ’n beskuldigde nie. Sy is nog net ’n verdagte.

“Sodra die NVG die finale dossier van die Valke ontvang na afloop van hul ondersoek, sal ’n besluit geneem word oor wie aangekla gaan word.”

Dit is ook nog nie duidelik wat die klagtes teen Ntuli-Zuma sal wees nie sou sy aangekla word.

Luvuyo kon ook nie sê hoe lank die ondersoek nog gaan neem nie omdat dit in die Valke se hande is en nie in die NVG s'n nie.

Ulrich het in September vanjaar ‘n brief aan Shaun Abrahams, direkteur van openbare vervolging, geskryf waarin hy duidelikheid vra oor die stand van sake rakende die ondersoek.

“Hy het ’n maand later in een lyntjie vir my teruggeskryf en gesê hy is ingelig my kliënt is een van die verdagtes in die ondersoek.

“Ek het op 19 Oktober weer ’n brief aan Shaun Abrahams geskryf waarin ek vra wie die persone is met wie ons moet handel rakende die ondersoek, wie die ander verdagtes in die saak is en wat die getuienis teen my kliënt is.

“Ons wag nou nog op ’n antwoord.”

Volgens Ulrich hang die klagtes soos ’n swaard oor Ntuli-Zuma se kop en dat sy net een begeerte het en dis dat die saak afgehandel moet word.

“Dit was sover vir haar ’n erg stresvolle en emosionele tyd. Haar reputasie is gekrenk.

“Sy ontken enige betrokkenheid. Sy dra nie eens kennis van hoe die sogenaamde vergiftiging kon plaasvind of hoe sy daarby betrek kon word nie.”

EKSTRA BRON: Sunday Times