Die Suid-Afrikaanse Veterinêre Raad (SAVR) sê veeartse wat honde se sterte afsit – nie weens mediese redes nie – kan vervolg word in terme van die wet op dierebeskerming.

“Veeartse wat volgens dié wet skuldig bevind word, sal deur die SAVR weens onprofessionele gedrag ondersoek word,” sê die raad in ’n inligtingstuk oor die amputasie van honde se sterte op hul webtuiste.

Hoewel die SAVR se besluit net op veeartse van toepassing is, kan enige mens wat ’n hond se stert afsit, ingevolge die wet vervolg word.

Die omstrede kwessie of honde se sterte afgesit mag word of nie, het weer onder die loep gekom nadat die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) die man van die Flooze, Sorina Erasmus, verlede week gewaarsku het om nie die sterte af te sit van die boerboele waarmee hy teel nie.

Braam Riekert teel al sewe jaar met boerboele op ’n plaas buite Marble Hall. Braam het saam met sy pa die geregistreerde telersvereniging Braambos.

Hoewel die SAVR reeds in 2008 die besluit geneem het dat dit oneties is om honde se sterte af te sit, sê Braam hy was nie bewus van so ’n besluit nie. Anemarí Pretorius, ondervoorsitter van die Suid-Afrikaanse boerboeltelersvereniging, sê die vereniging is bewus daarvan dat veeartse verbied is om honde se sterte af te sit.

“My gevoel is dat hierdie ’n omstrede kwessie is en nie almal is dit eens dat dit pynlik of nadelig is nie,” sê Braam.

“Sover ek weet, ervaar die honde geen pyn as die hond se stert afgesit word nie, mits dit gedoen word in die eerste paar dae ná geboorte om en by dag drie of vier. Die senustelsel is volgens navorsing nog nie ten volle ontwikkel nie en pyn word nie ervaar nie. Hondjies se oë is eers ná 10 dae oop, wat dus ’n aanduiding is dat daar in daardie eerste week van ’n hondjie se lewe nog baie ontwikkeling plaasvind.”

Die SAVR sê al word die hond se stert onder lokale verdowing afgesit, veroorsaak dit steeds spanning en pyn vir babahondjies.

“Navorsing in pynbestuur wys dat babahondjies, al is hulle net ’n paar dae oud, ’n ten volle ontwikkelde senustelsel en sin vir pyn het.

“Honde het hul sterte nodig vir balans en lyftaal.

“As ’n prosedure pyn veroorsaak en geen onmiddellike of toekomstige voordeel inhou vir die dier nie, maar tot komplikasies kan lei, is dit onnodig en moet die prosedure nie gedoen word nie.”

Anemarí sê ’n babahond snak nie eens na sy asem as sy stertjie afgesit word nie. En die stert is binne ’n dag of twee weer gesond.

Volgens die SAVR het mense reeds in die Middeleeue in Brittanje en Wes-Europa honde se sterte afgesit. Van die teorieë agter die praktyk was dat dit hondsdolheid kan voorkom, ’n rugbesering kan voorkom, ’n hond vinniger maak en voorkom dat honde hul sterte seermaak as hulle baklei.

Anemarí sê boerboele se sterte word nie afgesit weens estetiese redes nie. Daarby maak die boerboel-rasstandaard voorsiening vir boerboele met kort en lang sterte.

Die boerboelvereniging het nog nooit sy lede aangemoedig of versoek om honde se sterte af te sit nie. Indien ’n teler dit doen, is dit op eie diskresie.

“Omdat die boerboel aangehou word vanweë sy temperament en sy aangebore beskermingsdrang teenoor die hele gesin, word hy binne die huis aangehou. ’n Hond met ’n lang stert sal nie deug nie, want die stert is altyd in die pad. Rondom koffietafels, tussen klein kindertjies. Die sterte word selfs soms in deure vasgeklap, wat baie pynlik is,” sê Anemarí.

“Sterte kry seer, breek, ontwikkel knoppe en swere en word dan in elk geval geamputeer, wat enige veearts vir jou sal sê in ’n gevorderde tyd van die hond se lewe ’n baie pynlike storie is.”

Anemarí sê telers is maar krapperig oor die NDBV se inmenging, want wat van skape waarvan die sterte afgesit word of beeste wat met warm ysters gebrandmerk word. Of perde wat by wedrenne geslaan word om die wedren te voltooi ondanks moegheid of hitte.

Volgens Anemarí was daar in die verlede al gevalle waar telers hof toe geneem is weens klagtes van hondjies waarvan die sterte afgesit is, maar “in alle gevalle het die DBV die saak verloor”.