Dink jy ook die plaaslike bekende lyk op ’n druppel na soos die Suits-akteur Gabriel Macht? Of sal ’n mens nou sê Harvey Specter lyk meer soos hom?

Heinz het onlangs sy aanhangers op Instagram gevra wat hulle dink.

“Mense sê gereeld vir my ek lyk soos Gabriel Macht. Wat dink jy?” het Heinz by die foto van hom en die akteur geskryf.

“Jip, dis jul stoute ogies wat dieselfde is!” het jacquiline101 gesê. lizewilken het saamgestem en gesê: “Nog altyd so gesê, Heinz Winckler. Jy bly steeds my gunsteling.”

Gabriel het Suid-Afrika in September verlede jaar besoek vir ’n veldtog wat hy saam met DStv doen. Hy is ook DStv se Premium-handelsmerk-verteenwoordiger.

En hoewel ons die blonde akteur met die charismatiese persoonlikheid in die mooiste pakke leer ken het, was hy vir een van die perskonferensies baie gemaklik geklee in ’n blou hemp, jeans en gemaklike bruin baadjie.

“Dit is min of meer ek,” het hy geskerts toe hy oor sy persoonlike styl uitgevra word. “Ek moet sê voor ek met die program begin het, sou ek pakke dra wanneer ek na troues en begrafnisse gaan.

“Nou kry ek die geleentheid om waarskynlik van die mooiste pakke ter wêreld te dra. Hulle is baie gemaklik en pas baie goed. Ek gee glad nie om om hulle te dra terwyl ek werk nie.”

Dalk moet ons vir Heinz in een van dié pakke sit om te kyk of die ooreenkoms nie dalk selfs verder strek nie.