Starship Tegnologie het ses robotte bekendgestel wat Londen se strate gaan invaar in samewerking met twee van die Verenigde Koninkryk se bekendste kosafleweringsondernemings.

Dié tegnologie-onderneming se stigters, Ahti Heinla en Janus Friis, het onthul die robotte gaan in die volgende paar maande lipleklekker etes van Just Eat en Pronto aan honger klante oor ’n wye gebied aflewer.

Die robotte kan glo enige plek binne ’n radius van 5 km vanaf die restaurant beweeg. Volgens hul webwerf word die blikbreine beskryf as ’n toestel wat mense se lewe aansienlik sal vergemaklik.

Na gelang van van hoe ver jy vanaf die restaurant woon, kan die robot binne van 5 tot 30 minute jou warm kossies veilig by jou deur aflewer.

En die beste nuus is jy kan die hele reis op jou slimfoon dophou!

Maar hoe keer die ontwerpers dat die arme Starship-robot onder een van Londen se bekende rooi busse beland?

Ingeboude kameras en sensors help dat dit nie die pad byster raak nie en laat die robot stilstaan voor dit teen iets bots.

Dié kontrepsie vervoer nie net wegneemetes nie, maar gaan ook jou uitstappie na winkelsentrums vergemaklik. Daar word ook beplan dat dit tot twee sakke propvol kruideniersware sal kan vervoer.

Ons is net nie so seker of dit die kruideniersware ook in jou koskas sal kan uitpak nie!

Starship het reeds die robotte in ander wêreldstede getoets voor die eerste ses kommersiële prototipes in Londen losgelaat is.

Die maatskappy beplan om binnekort met Amerikaanse maatskappye in ’n vennootskap te gaan.

Wie weet, dalk gaan jy binnekort jou middagete ook per robot ontvang.

Kyk hier hoe die robotte woeker:

Bronne: Starship, Engadget.com, Business Insider